Volgens navorsing wat die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) gedoen het, kan die appel- en peerboere in die Langkloof met slegs 30% van hul gewone waterkwota ongeveer 50% van hul produksie binne die volgende jaar verloor. Gevolglik kan die streek ook sowat die helfte van die werkgeleenthede verloor. 

Besproeiingsboere in die Langkloof moet volgens die Departement van Water en Sanitasie van September af tevrede wees met slegs 20 % van hul besproeiingskwota, ondanks dié navorsing wat ter tafel gelê is. Die Gamtoosvallei se besproeiingsboere, wat afhanklik is van water uit die Kougadam, moet reeds sedert 1 Julie met slegs 20% van hul jaarlikse waterkwota klaarkom.

Volgens mnr. Marius van der Westhuizen, die Langkloof se Hortgro-verteenwoordiger en self ’n boer, het die bedryf met die BFAP geskakel om die uitwerking van die beperkings op die Langkloof te bereken nadat dit aan die lig gekom het dat die department van plan is om waterkwotas in die Langkloof in die nuwe waterjaar tot 20% te besnoeig. Die BFAP het tydens die droogte in die Wes-Kaap besluitnemers van inligting voorsien om die hortologiese, ekonomiese en maatskaplike uitwerking van die droogte op vrugtebome te bereken. Van der Westhuizen sê hulle het BFAP gevra om ’n soortgelyke modulering vir die Langkloof te doen. 

Verlammende gevolge

Volgens die BFAP se berekening kan ’n beperking tot 30% van die Langkloof se gewone waterkwota vir een jaar die verlies van sowat 6 600 werksgeleenthede tot gevolg hê, aangesien produksie met 50% sal daal. Daarby kan die vallei ’n uitvoerinkomste van R534 479 060 verloor.

Indien die vallei vir die volgende twee jaar slegs 30% van sy normale kwota kry en die waterverbruik daarna tot normaal sou herstel, toon die BFAP se syfers dat die bedryf steeds onherstelbaar benadeel sal wees, wat stagnasie en die ineenstorting van die bedryf kan veroorsaak.

Volgens die BFAP verskaf die landbou in die Langkloof aan 13 435 mense werk, wat die hele waardeketting insluit. Die werkers het altesaam 53 740 afhanklikes. Daarvolgens onderhou die landbou in die vallei sowat twee mense per hektaar.

Van der Westhuizen sê die departement het ten spyte van dié inligting steeds die groot besnoeiing in die  kwota ingestel, terwyl die Langkloof se damme tans 100% en die Kougadam 53,99% vol is ná goeie reën in September. 

Van 100% tot 20% water binne een jaar

Volgens van der Westhuizen is die waterbeperking van 60% wat vroeër vanjaar ingestel is, die eerste nóg in die Langkloof. Dié beperking is in Julie verhoog tot 80% om te voorkom dat die Kougadam leegloop. Dié dam was voor die begin an die nuwe waterjaar slegs 6% vol. Die Langkloof is een van die hoofopvanggebiede van die Kougadam.

“Ons verstaan die instelling van die beperkings, maar ons is ongelukkig omdat die waterbeperking nie geleidelik toegepas is nie. Die departement moes al ’n jaar gelede die rooi ligte sien flikker het toe die Kougadam op 15% gestaan het.”

Volgens Van der Westhuizen het boere gevra dat die beperking eerder op 60% gelaat moet word.

“Appels en pere is langtermyngewasse, en jy kan nie waterverbuik aan- en afskakel nie. Jy het vrugtebome wat 30 jaar tot 40 jaar in die grond is, en daarby is dit hoofsaaklik ’n uitvoerbedryf.”

“Ek kan nie vanjaar aan Tesco voorsien, maar volgende jaar sê, jammer, ek het nie ’n produk nie. As jy nie ’n produk het nie, is jy uit. En dan duur baie lank om weer in te kom. Dit raak ’n hele bedryf.

“As die watervlakke binne ’n kalendermaand kan verander, dan moet die beperkings ook in binne ’n kalendermaand kan verander.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.