Verlede jaar is 43 450 kg langlewemelk met ’n vetinhoud van 1% tot 6% ingevoer, 70% minder as in 2019, sê die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro) in ’n verslag. Die kategorie sluit volroom- en 2%-melk in en mnr. Alwyn Kraamwinkel, uitvoerende hoof van Sampro, sê dit is meestal volroommelk wat ingevoer word.

In totaal is 5 391 683 kg verlede jaar ingevoer. As die invoer in die eerste drie maande van vanjaar op dieselfde vlak voortduur, sal vanjaar na raming 11 257 208 kg ingevoer word, byna 109% meer as verlede jaar. Dit sal wel 37% minder as in 2019 wees.

Die TABEL wys hoe baie die hoeveelhede van jaar tot jaar wissel. Kraamwinkel sê dit word beïnvloed deur die internasionale en plaaslike vraag en aanbod, asook die wisselkoers. Die verswakking van die rand en logistieke ontwrigtings weens Covid-19 het waarskynlik verlede jaar ’n groot uitwerking gehad.

.

Weens die onvoorspelbaarheid van vraag en aanbod en die wisselkoers is dit volgens hom onmoontlik om ’n patroon van invoer te bepaal.

Goedkoper vanjaar

Die gemiddelde prys waarteen langlewemelk verlede jaar ingevoer is, was 9,4% hoër as in 2019, terwyl die gemiddelde prys van Januarie tot Maart vanjaar 4,6% laer as in 2020 was.

In 2019 het die beraamde gelande koste per maand in Durbanhawe gewissel van R8,50/kg tot R11,78/kg, terwyl dit in 2020 van R10,63/kg tot R11,83/kg gewissel het. In Maart vanjaar was die beraamde gelande koste R10,73/kg.

Markstemming

Volgens Sampro was verlede jaar se invoer gelykstaande aan 0,47% van die beraamde plaaslike vraag, teenoor 4,2% in 2018 en 1,7% in 2019.

Hoewel dit klein persentasies is, sê mnr. Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie (MPO), dit raak boere beslis. “Sodra die maandelikse volume invoer van langlewemelk noemenswaardig meer is as vorige maande of vorige jare s’n, verander die markstemming en word dit gebruik om die melkprodusent se prys af te druk.

“As ’n skaarsheidsfaktor ten opsigte van onverwerkte melk bestaan, kan dit doodgewoon deur die melkboer se prys opgelos word en hoef invoer nie nagejaag te word nie.”

Ernstige logistieke probleme wêreldwyd, veral skeepsvervoer en spesifiek by die Durbanhawe, bemoeilik tans invoer. “Die wêreld het in die harde grendeltydperk sekere uitsetvolume en ook sekere logistike kapasiteit rakende distribusie verloor, wat nou ingehaal moet word.”

Oorsprong

Sampro sê volgens syfers van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het die meeste langlewemelk verlede jaar vanaf Pole gekom, naamlik 5 303 463 kg en die oorblywende 88 220 kg was van onbekende oorsprong.

Na raming sal 11 257 600 kg vanjaar uit Pole ingevoer word, gegrond op Januarie tot Maart se invoer.

Van Heerden, wat ook bestuurder van Agri Inspec is, sê dit gebeur van tyd tot tyd dat die oorsprong of bestemming onbekend is, gewoonlik as dit in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie is. “Na gelang van die volume en die betrokke grenspos gaan Agri Inspec terug na die SAID en vra meer detail aan. Dit word fyn dopgehou, aangesien dit ’n maklike manier van wanvoorstelling kan wees.” 

Uitvoer

Suid-Afrika het luidens die Sampro-verslag verlede jaar 9,7% meer langlewemelk met ’n vetinhoud 1% tot 6% uitgevoer as in 2019. Uitvoer kan vanjaar stewig styg, naamlik met 47,7%, as uitvoervlakke van die eerste kwartaal voortduur. Mosambiek is die belangrikste bestemming.