Die onbeholpenheid van die regering gaan nou dit selfs ’n handrem op ekonomiese herstel in die tyd ná covid-19 wees, waarsku kenners. Die land se hoop is dus op sy gewone burgers, en húlle skitter in die staat se afwesigheid.

Die regering se vermoë om ’n beduidende rol te speel in die ekonomiese groei wat Suid-Afrika nou nodig het, word belemmer deur korrupsie, ’n gebrek aan vermoë en gebrekkige bestuursvaardighede en vaardighede in die algemeen, het me. Nicky Weimar, hoofekonoom by Nedbank, op Agri Limpopo se onlangse kongres gesê.

Die staat, het sy gesê, het nie geld om in vaste kapitaalontwikkelings te belê nie, iets wat die ekonomie nou, ná talle inperkings, ’n welkome hupstoot sou gee.

Die private sektor kan ook nie help nie. Staatsinstellings, soos Eskom en Transnet, het eenvoudig nie infrastruktuur wat private belegging deur maatskappye kan dra nie.

Dit maak geen sin om winkelsentrums, fabrieke en residensiële eiendomme te ontwikkel as daar nie elektrisiteit of vervoerkapasiteit gaan wees nie.

Ekonomiese groei in Suid-Afrika gaan vir die voorsienbare toekoms dus van die uitvoer van kommoditeite en verbruikersbesteding afhanklik wees.

Ekonomiese groei in Suid-Afrika gaan dus baie moeiliker en stadiger gebeur teenoor baie ander lande, waar regerings vroegtydig die herstel van hul ekonomieë kan aanhelp met staatsgeld. Daarteenoor gaan die staat in Suid-Afrika ’n las op die samelewing wees in die herstelproses ná covid-19.

DÍT KWEEK GEWELD

Mnr. Gerbrandt van Heerden ’n ontleder van die sentrum vir risikobepaling (CRA), sê in sy verslag “Criminal State”, waarin hy Suid-Afrika se misdaadneigings ondersoek, dat toenemende misdadigheid onder mense regstreeks verband hou met die land se tanende ekonomie.

Hy beskuldig die regering daarvoor en sê die staat se beleidsrigting druis in teen werkskepping, ekonomiese groei en belegging. Mnr. Bennie van Zyl, bestuurder van TLU SA, het gesê in die regerende party se beleid van kaderontplooiing speel kundigheid nie juis ’n rol in die aanstellings wat op nasionale, provinsiale, en munisipale vlak in staatsposte gemaak word nie.

“Dit is eintlik ’n klomp trogvreters wat vir mekaar gesê het: Kom ons kyk wat ons uit die stelsel kan kry. Of daar enigsins dienslewering is, en of daar enigsins sukses is, is irrelevant.

Daarvoor betaal Suid-Afrika ’n duur, duur prys.” Van Heerden het gesê die onlangse gewelddadige protesoptrede waartydens miljarde rande se skade aan winkelsentrums en pakhuise aangerig is, is bloot die gevolg van ’n ekonomie wat al langer as tien jaar terug begin stagneer het.

GEMEENSKAPPE STAAN SAAM

Mnr. Ian Cameron van die beweging Safe Citizen en stigterslid van die webgroep firearms.co.za het daarop gewys dat die situasie nie deur die polisie of die weermag gestabiliseer is nie, maar wel deur goed georganiseerde gemeenskapsgroepe wat bereid was om die wapen op te neem waar nodig om hul plaaslike infrastruktuur te beskerm.

Hy het gesê mens sal naïef wees om te dink die onlus in Julie, onder die voorwendsel van oudpres.

Jacob Zuma se aanhouding, was die laaste plunderoptrede in Suid-Afrika. “Mense het nou gesien waarmee hulle kan wegkom.” Hy moedig mense aan om strukture op die been te bring wat binne die landswette hul gemeenskappe kan beveilig.

“Wees sigbaar in julle ondersteuning vir wetstoepassing.” Cameron het gesê goed georganiseerde gemeenskapstrukture as afskrikmiddel teen misdaad is baie goed gedokumenteer en hy meen dit is die oplossing vir die toekoms.

SELFSTANDIG

In ander fasette van die samelewing het gewone landsburgers egter al lankal ingespring waar die staat sy pligte versuim het. Dr. Theo de Jager, voorsitter van die familieboerenetwerk Saai, het gesê boere het al so vroeg as 2000 op groot skaal begin om in te staan vir die staat.

“Die Land Bank sou aanvanklik gehelp het met die herstel van infrastruktuur wat daardie jaar deur die erge vloede beskadig is.

Met dié versekering van beskikbare geld het boere dadelik begin om brûe, damme en paaie te herbou, maar toe trek Land Bank kop uit en boere moes uit hul eie koffers die projekte finansier. Hulle het geen keuse gehad nie, want die infrastruktuur was broodnodig vir hul waardekettings.”

De Jager sê sedertdien herstel boere op die platteland maandeliks waarskynlik meer paaie as munisipaliteite. Die staat het sy boere met droogtehulp só in die steek gelaat dat ander lande se landbou-organisasies en selfs regerings by De Jager as hoof van die Wêreldboereorganisasie probeer uitvind hoe die private droogtehulpstelsel in Suid-Afrika funksioneer.

“Ons het tevergeefs vir die regering probeer oortuig dat hy ’n finansiële brug vir boere moet bou tussen heersende droogtetoestande en die volgende reën, nou doen agt private organisasies dit self.”

Dieselfde geld onderwys en opleiding. Van Suid-Afrika se 17 landboukolleges meen De Jager nog net Elsenburg in die Wes-Kaap lewer gewilde kwalifikasies vir die landbou-werksplek.

Daarom steun Saai op private instellings, soos Afriforum se Soltech- tegniese kollege en die Bo-Karoo-landboukollege, vir opleiding van plaaswerkers én -bestuurders.

“Mense bou eie skole, en dié wat dit nie kan doen nie, kies al hoe meer tuisonderrig, en groepe bou hul eie universiteite en opleidingskolleges,” het Van Zyl gesê. “Ons kan op elke terrein gaan kyk hoe die samelewing eintlik dubbel belasting betaal.

“Suid-Afrika kan die ANC nie meer bekostig nie, hy het te duur geword vir hierdie land en sy mense.” lbw

Mnr. Bennie van Zyl FOTO: ? JOHAN NORVAL
Dr. Theo de Jager FOTO: ? NICO VAN BURICK