Saam met die land se gesondheidsdienste, veiligheidspersoneel en ander belangrike nooddienste gaan Suid-Afrika se landbouers verseker dat genoeg kos beskikbaar sal wees om almal te voed in hierdie moeilike tye van angstige paniekkopers en ’n nasionale inperking van drie weke. Ons salueer almal van julle vir alles wat julle vir ons doen. Dit maak ’n mens trots om ’n Suid-Afrikaner te wees! 

Landbouweekblad

In hierdie tyd waarin groot onsekerheid heers, wil Landbouweekblad sy lesers maan om fopnuus en valse bewerings asseblief tot elke prys te vermy. Ons wil lesers met die korrekte inligting oor alle verwikkelinge en ’n nugter perspektief bedien. Ons sal lesers dus deurgaans op ál ons mediaplatforms op die hoogte van sake hou. Soos gewoonlik sal u ook ander nuus, landbousake en gebruiklike nuttige artikels daar kan lees.  Lesers het die volgende opsies:

• Lesers kan elke dag ons webwerf besoek by www.landbou.com – nuwe berigte word deurgaans geplaas.

• Besoek ons Twitter-blad by @landbou en ons Facebook-blad.

• Oorweeg dit om by https://www.netwerk24.com/subskripsie/opsies digitaal in te teken op Landbouweekblad (plus alle ander Afrikaanse publikasies van Media24) teen net R99 per maand.

• Terwyl u op die internet besig is, kan u sommer op ons elektroniese nuusbriewe inteken by – só kan u die belangrike nuus van die week net daar in jou e-pos se inboks ontvang.

• Ons twee TV-programme, Landbouweekliks en Boer maak ’n plan, word steeds elke week uitgesaai op VIA (DStv-kanaal 147). Nuwe episodes word onderskeidelik op Dinsdae en Woensdae uitgesaai.

Intekenare op gedrukte tydskrif

Weens die staat van inperking sal Landbouweekblad se papierweergawe ongelukkig nie gedruk of versprei kan word nie. Die volgende vier uitgawes is ter sprake: 2 April, 9 April, 16 April en 23 April 2020. Hierdie uitgawes sal wel in digitale formaat beskikbaar wees. Ons is besig om te reël dat alle intekenare van die gedrukte tydskrif gratis toegang sal kry tot dié drie digitale uitgawes.

Nuus

Wees op die uitkyk vir beriggewing oor onder meer die volgende onderwerpe:

• Watter reëls en regulasies van toepassing gaan wees op boere, werkers en alle belanghebbendes in die waardeketting tydens die nasionale inperking.

• Hoe die inperking die landbou op ’n praktiese vlak gaan raak.

• Nuus oor veilings en die markte.

• Voedselverskaffing aan die publiek.

• Invoer en uitvoer.

• Verkope op varsproduktemarkte.

• Hulp aan ondernemings tydens en ná die inperking.

Bly in kontak

Enige leser met ’n vraag of wat sukkel om ons tydskrif in die hande te kry of digitaal in te teken, is baie welkom om e-pos te stuur aan lbw@landbou.com – ons sal graag kyk of ons ’n plan kan maak.

Voorspoed

Ons wens al ons lesers baie sterkte toe met die moeilike tyd wat voorlê. Kom ons ondersteun mekaar, help waar ons kan en doen wat van ons verwag word. Ons is immers almal saam in dieselfde bootjie.  Almal sal ’n ekstra poging moet aanwend om gewoond te raak aan die nuwe wêreld waarin ons woon, en ons by Landbouweekblad gaan ons kant bring om ’n bydrae te lewer.

As ons as tydskrif die Groot Depressie, die twee groot wêreldoorloë en die onstuimigheid van die politieke oorgang in die 1990’s saam met ons lesers kon deurmaak, gaan Suid-Afrika as nasie beslis sterker aan die ander kant van hierdie ding uitkom. En sekerlik gaan almal in die land na dese met nuwe oë na die landbou kyk. Tot dan, kyk asseblief mooi na julself, jul familie en jul naastes.

Beste wense,

Chris Burgess

Redakteur 

Landbouweekblad