Mnr. Theuns Botha van Boshof,bekend vir sy betrokkenheid by die vleisbok- en Dorperbedryf, is op die ouderdom van 86 oorlede. Botha het ’n onuitwisbare bydrae as teler van verskeie rasse met sy kennis van die kleinveebedryf gelewer.

Die Boerboktelersgenootskap van Suid-Afrika het hom onder meer geloof as ’n ware legende wat aan sy onkreukbaarheid gekenmerk is.

Mev. Michelle Kruger, die genootskap se rasdirekteur, sê Oom Theuns, soos hy bekend was, het hom veral as keurder en beoordelaar van vleisbokke asook Dorperskape onderskei en hy het wye erkenning geniet vir sy uitsonderlike waarneming van kleinvee van gehalte.

“Sy nalatenskap en werksetiek in alles wat hy aangepak het, is navolgenswaardig,” sê sy.

Hy het enkele jare gelede op ’n artikel van die genootskap oor ’n “Boer Goat is more than just a goat” gereageer dat hy danke aan sy verbintenis met die vleisbokke net enkele plekke in Suid-Afrika en Suider-Afrika nie besoek het nie. Hy het as beoordelaar van die Boerbokras ook verskeie keer deur lande soos Australië, Nieu-Seeland en Amerika gereis.

Botha se betrokkenheid by die Boerbok het in Desember 1947 begin toe hy by sy oom, mnr. Koos Botha, van Grootfontein, by Somerset-Oos bewus van vleisbokke geword het. Hy het onder meer by die jong bokkies gewag totdat die ooie van die veld af teruggekeer. “Bedags het ek by hulle gesit, hulle asem geruik, hulle in die oë gekyk en ’n besluit geneem dat ek nie sal rus vóór ek nie met bokke boer nie,” het hy aan die genootskap geskryf. Botha het in 1963 met sy bokboerdery begin.

Benewens verskeie eerbewyse in sy loopbaan, het die Boerboktelersgenootskap hom in 2015 as die Persoonlikheid van die Jaar vereer.

Hy word oorleef deur sy seun, Willem, en dogter, Boeboe, en hulle gesinne. Botha se vrou, Paula, het hom in 2015 gelede ontval.

Botha se begrafnisdiens word op 9 April om 11:00 vanuit die NG Kerk op Boshof gehou. Hy word later op die plaas Kanonfontein begrawe. Begrafnisgangers moet bedag wees op die slegte grondoppervlak van die 46 km na die plaas en word versoek om hul eie stoele, sambrele en water saam te neem.

Mnre. Theuns Botha (regs) en sy seun Willem, tydens die Boerboktelersgenootskap se internasionale skou in 2019 te Bloemfontein. Foto: Michelle Kruger