Ivor Price, aanbieder van Landbouweekliks, het op die eerste dag van die Nampo-Oesdag ’n onderhoud met Serfontein op AFGRI se standplaas gevoer.

“Ek het mnr. Ramaphosa die eerste keer in 1996 ontmoet en het baie respek vir hom,” het Serfontein gesê.

“Die grond (met die oog op grondhervorming) is egter die afgelope 24 jaar aan die verkeerde mense gegee. Mense met ’n passie vir boerdery moet grond kry, asook ’n titelakte en ’n mentor wat gewillig is om die pad saam met hulle te stap. Daar is soveel gewillige kommersiële boere wat aan sulke projekte sal deelneem.” 

“Haal die politiek uit die saak, vorm strukture en betrek kommersiële boere. Dít is die oplossing.”

Doelwit moet reg wees

Die verbruiker is koning en nie ander fasette van die boerdery nie, sê Serfontein.

“Ek glo in gehalte, nie in kommoditeite nie. Ons probeer ’n produk vir die verbruiker gee wat in sy behoeftes voorsien.”

Die gaping tussen die verbruiker en die produsent is groot en moet drasties kleiner gemaak word. Dit kan gedoen word deur waardetoevoeging, reken Serfontein.

“Jy moenie net op een ding klem lê nie. As bedryfskoste styg, is dit gekoppel aan die Amerikaanse dollar. Ek veg daarteen deur ’n plek in die waardeketting te hê.”

Sernick is van plan is om binnekort ’n spesialiswinkel in Soweto, Gauteng, oop te maak. 

“Dit is ’n mark wat ons graag wil betree. Ek was verbaas oor wat ek in Soweto gesien het. Die mense is verskriklik vriendelik daar en ’n veiliger plek kry jy nie.”