Stargrow Africa het 13 jaar gelede sagtevrugte-saailinge aan Lesotho voorsien. Dit het gelei tot die ooreenkoms tussen die Lesotho-regering, die Wêreldbank, die PSC (Private Sector Competitive) en Stargrow Africa.

Mnr. Gilliam Vermeulen, besturende direkteur van Stargrow Africa, sê die waarde van die tweede fase, wat uit 140 ha onder haelnette bestaan, word op R150 miljoen beraam. Hulle sal minstens 60 werkgeleenthede tydens die voorbereidings- en planttydperk skep. Die Lesotho-regering sal die kapitaal deur die land se Nasionale Ontwikkelingskorporasie belê. Die Wêreldbank sal sekondêre kapitaal verskaf. Stargrow Africa sal die projek bestuur tot dit oorhandig kan word aan die drie gemeenskappe wat die grond besit.

Die vrugtebome word op gemeenskapsgrond in die distrik Leribe in die noordooste van Lesotho sowat 100 km noord van Maseru (ongeveer 40 km van Ficksburg) gevestig.

’n Gidsprojek is vier jaar gelede reeds van stapel gestuur. Dit het Lesotho se oppervlak onder vrugtebome van 2 ha tot 27 ha opgestoot. Nou sal ’n verdere 20 ha tydens die eerste fase, wat volgende jaar begin, gevestig word. Die doel is om binne tien jaar 1 000 ha vrugtebome te vestig.

“Die maatskappy sal ook kyk na die vestiging van kwekerye, asook pakskure en koelkamers,” lui ’n verklaring.

Benewens appels aard perskes en pruime ook goed in die gebied. 

Wil uitvoer

Na verwagting sal die totale produksie sowat 8,4 miljoen kratte, oftewel 1 650 vraghouers, beloop. Dit kom neer op op ’n opbrengs van 50 t/ha.

Vermeulen sê Lesotho sal twee weke voor die Wes-Kaap in produksie kom. Die vroeë vrugte sal waarskynlik ’n premie verdien. Hulle sal begin deur vrugte aan Bloemfontein, Gauteng en KwaZulu-Natal te lewer. “Die uiteindelike doel is om na die Midde- en Verre-Ooste, die Amerikas en die res van Afrika uit te voer deur die Durbanse hawe.”

Hy sê die finale kultivarkeuse is nog nie bevestig nie. “Sodra al die plantbeskermingswetgewing ten opsigte van plantmateriaalregte in Lesotho gereed is, sal ons graag die nuutste kommersiële kultivars vestig.” 

Struikelblokke uit weggeruim

Laat ryp is algemeen in Lesotho en dit kan groot skade aanrig. Om dit te verhinder, word die boorde teen ’n noordelike helling gevestig. Die bome word in ’n suid-noord-rigting geplant sodat dit voldoende sonlig ontvang. Die bome word boonop met haelnette bedek om dit teen hael, wind, voëls en insekte te beskerm.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.