Voor die regulasies ingestel is, het Lesotho se nasionale wol- en bokhaarkwekersvereniging (LNWBKV) die land se eerste minister luidens ’n verklaring versoek om die voorgestelde regulasies te heroorweeg. Die organisasie verteenwoordig ongeveer 37 500 lede en is die grootste bedryfsorganisasie in dié land.

“Dit is noodsaaklik om u in kennis te stel dat hierdie inkomste nie net aan ons families bestee word nie, maar ook aan ons veewagters en hul families. Die bydryfskoste om ons kuddes te onderhou, soos vir byvoeding en medisyne, moet ook in berekening gebring word.”

Dié versoek het egter op dowe ore geval en die nuwe regulasies is op 24 September deur die regering aanvaar. Die besluit raak sowat 150 000 huisgesinne se lewensomstandighede. Die vereniging het op dieselfde dag 'n video op Facebook gedeel van 'n protesoptog teen die instel van die nuwe regulasies. 

Volgens Cape Wools het Lesotho in die 2017-’18-seisoen altesaam 6,1 miljoen kilogram wol gelewer, wat aan dié land ’n inkomste van sowat R590 miljoen besorg het. Die verbod het nou ’n afname van ongeveer 12,7% wol en 12,2% in inkomste vir Port Elizabeth se wolbeurs tot gevolg.  

In ’n onderhoud met die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het mnr. Rantelali Shea, ’n verteenwoordiger van die LNWBKV, gesê boere is glad nie vooraf oor die nuwe regulasies geraadpleeg nie. Die land kan sy internasionale mark verloor.

Hy meen die besluit is polities gedrewe, aangesien die enigste maatskappy in Lesotho wat wol koop, deur drie ministers en ’n sakeman besit word.

Afleggings kom

Volgens mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van BKB se wol- en bokhaarafdeling, is dit jammer dat die nuwe regulasies ingestel is, maar ’n ander land se wette moet gerespekteer word. “Ek dink egter die besluit is kortsigtig.”

“Ons kan ons boere en klante daar so goed ons kan ondersteun. Daar is boere wat tans met regsoptrede besig is, en as hulle ons hulp vra, help ons hulle.

“Die groot geveg gaan nou oor aan wie bokhaar behoort – die boere of die staat.”

Hy sê die regulasies gaan beteken dat die maatskappy van sy werkers sal moet aflê weens die afname in die hoeveelheid wol wat verkoop en gehanteer sal word.

Nuwe regulasies

Tydens die onderhoud met die SAUK het mnr. Tefo Mapesela, Lesotho se minister van handel, gesê enigeen is welkom om wol en bokhaar te koop, mits dit binne die land se grense is.

Lesotho het egter nie die hoogs gesofistikeerde toerusting en stelsels om die wol en bokhaar te toets nie, aangesien die Woltoetsburo in Port Elizabeth die enigste in sy soort in Afrika is. Volgens ’n lid van ’n afvaardiging uit Lesotho wat onlangs die buro in Port Elizabeth besoek het, sal die oprigting van so ’n sentrum in die nabye toekoms te duur wees, aangesien Lesotho bankrot is.

Daar is tans slegs een koper in die land. Boere sal nie die voordeel van internasionale pryse wat tans op rekordvlakke is, kan kry nie.  

Volgens The Post is Mapesela tans besig met ’n landwye veldtog om boere wat die regulasies teenstaan, met geweld uit skeerhokke te probeer verwyder.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.