Die situasie het ontstaan terwyl besproeiing vir die volgende sitrus-, avokado- en makadamia-oes noodsaaklik is. 

Me. Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, waterwese en sanitasie, het luidens ’n onlangse verklaring die versekering gegee dat daar genoeg water vir Suid-Afrikaners beskikbaar sal wees mits hulle water spaarsamig gebruik tot die somerreën kom. Luidens die verklaring grond Sisulu haar siening op die mening van wetenskaplikes wat bogemiddelde reënval vir Suid-Afrika se somerreëngebiede in Desember en Januarie voorspel. 

In Limpopo het die eerste reën reeds geval en enkele damme, soos die Glen-Alpine-dam in die Mogalakwenarivier en die Vergelegendam in ’n sytak van die Politsi-rivier, se vlakke het volgens die departement van waterwese en sanitasie se weeklikse data reeds gestyg. Ander damme is egter slegter daaraan toe as die vorige week. 

Die Ebenezerdam wat deur mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging, bestuur word om die Tzaneendam aan te vul, se vlak is ook kommerwekkend laag. Hy sê dit maak meer sin om water in hierdie dam met sy kleiner verdampingsoppervlak en koeler klimaat op te gaar en soos nodig uit te laat vir die watergebruikers van Tzaneen. 

Die Ebenezerdam het egter net ’n derde van die Tzaneendam se waterhouvermoë. Teen 18 November was dit 31,9% vol. 

Staat se skuld

Om sake verder te kompliseer word die Ebenezerdam ingespan om water te verskaf aan Polokwane, terwyl dié stad se water eintlik uit die Dap Naudé-dam in Magoebaskloof moet kom.

Mnr. Roelf Meyer, wat deesdae aan die stuur staan van die organisasie In Transformation Initiative se landbou-ontwikkelingsagentskap, sê dit is die staat se skuld dat boere in die distrik Letaba nie besproeiingswater het nie.

Die Tzaneendam se volle houvermoë is 156,6 miljoen kubieke meter. Die wal is egter meer as ’n jaar gelede afgebreek tot op ’n vlak waar die dam net 60% van sy volle houvermoë kan opgaar. Dit is gedoen sodat ’n hoër wal met sluise gebou kan word wat die dam se houvermoë met 25% sal vergroot.

Daar is egter sedert Februarie 2018 geen bouwerk gedoen aan die nuwe, hoër wal nie. Dit is nagenoeg 62 miljoen kubieke meter wat nie opgegaar kan word nie. In 2017 moes die damvlak met 10% verlaag word sodat die kontrakteur wat die wal moes afbreek, daarmee kon begin.

Boere wat opgaardamme gehad het, het toestemming gekry om van daardie water op te gaar, maar die meeste water het met die Letabarivier afgeloop en is verlore. “Daardie water kon nou ’n verskil gemaak het vir ons boere,” sê mnr. André Thomas, ’n prokureur van Tzaneen wat nou met die landbougemeenskap saamwerk. Selfs die Middel-Letabadam het nou minder as 3% water in.

Boonop sê Meyer dit is ontoelaatbaar dat Polokwane se water vir sy primêre verbruikers aan die Ebenezerdam onttrek word. Dit word gerieflikheidshalwe gedoen omdat die infrastruktuur tussen Polokwane en die Dap Naudé-dam nou al jare lank onbruikbaar is. Die Dap Naudé-dam se watervlak staan tans op 76,3%.

Mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, het op ’n onlangse paneelbespreking oor grondsake op Tzaneen erken dat die staat boere in die steek laat deur te sloer met die bouwerk aan Tzaneendam.

Die departement van waterwese en sanitasie se woordvoerder kon nie bereik word om vrae te beantwoord oor die toedrag van sake in die Groter Letaba-opvangsgebied nie.