Die saak sal vandag (30 Junie) in die hooggeregshof in Makhanda aangehoor word.

Al Mawashi voer sedert Januarie 2019 verkoelde vleis uit. In Oktober 2019 het hy die eerste keer lewende skape na die Midde-Ooste verskeep op skepe wat deur die destydse departement van landbou, visserye en bosbou goedgekeur is. Hy het reeds twee vragte skape van die Oos-Kaap na die Midde-Ooste verskeep.

Die Rooivleisbedryfsforum, as respondent in die hofsaak, se regspan het die interdik ondersteun totdat bewyse voorgelê kan word dat aan internasionale dieresorgvereistes voldoen word.

Mnr. Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi Suid-Afrika, sê die “regsoorlog” wat teen die uitvoer van lewende hawe gevoer word, plaas ’n vraagteken agter die betroubaarheid van Suid-Afrika se voorsieningsketting. “Dit het ook Suid-Afrika en die Midde-Ooste se handelsooreenkomste in ’n moeilike posisie geplaas. Ons is tog hier besig met voedselsekerheid vir verskeie lande.”

Hy sê lande in die Persiese Golf, soos Oman, Koeweit en die Verenigde Arabiese Emirate, word deur ’n voedselkrisis in die gesig gestaar omdat Al Mawashi geen waarskuwing aan hulle kon gee dat hy nie skape gedurende spesifieke tye van die jaar mag verskeep nie.

Me. Reggie Ncgobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het voorheen aan Landbou.com gesê die departement het vir die DBV gesê het dat hy Al Mawashi sal adviseer om nie die skape voor September na die Midde-Ooste te verskeep nie aangesien dit tans somer daar is.

Ally sê die uitvoer van lewende hawe is wettig in Suid-Afrika en Al Mawashi kom nie net plaaslike vereistes na nie, maar oortref internasionale dieregesondheid- en welvaartstandaarde vir die vervoer van diere ter see.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat Suid-Afrika die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) se standaarde aanvaar. Die departement van landbou het ons skepe ondersoek en die nodige permitte en gesondheidsertifikate aan ons uitgereik. As ons nie aan die OIE se standaarde voldoen het nie, sou ons nie met ons verskepings kon voortgaan nie.”