Regter Gerald Bloem se uitspraak was dat die DBV se interdik tot 16 Julie geldig sal bly en geen skape uitgevoer mag word nie. Die skape, wat in Maart aangekoop is om in Junie na die Midde-Ooste verskeep te word, sal intussen by die Castledale-voerkraal in Berlyn in die Oos-Kaap gevoer en versorg word.

Luidens ’n verklaring deur die DBV het Al Mawashi aangevoer dat die vertraging in die verskeping van die skape en die koste daaraan verbonde om die skape langer in die voerkraal te versorg tot so ’n hoë koste vir die maatskappy gelei het dat die maatskappy sy werksaamhede in Suid-Afrika moontlik sal moet beëindig.

Al Mawashi het gesê as hy toegelaat word om 56 000 skape te verskeep, sal dit tydens die verskeping beter vir die diere se welstand wees. Die DBV het dié aanbod van die hand gewys en gesê hy is besorg oor hoeveel ruimte elke skaap op die skip gaan hê.