Die tydelike interdik is deur die hooggeregshof in Makhanda uitgereik en is tot 16 Julie geldig. Luidens ’n berig op HeraldLIVE sal die DBV dan ’n dringende aansoek bring om die verskeping van lewende hawe permanent stop te sit.

Mnr. Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi Suid-Afrika, sê die maatskappy het in Maart met die aankoop van skape en beeste begin sodat die diere in Junie na die Midde-Ooste en Noord-Afrika verskeep kon word “ten einde voedselsekerheid in dié gebiede te ondersteun”.

Hy sê die Suid-Afrikaanse regering en die Oos-Kaapse regering weet sedert middel April dat die verskeping van hierdie skape en beeste in Junie sou plaasvind.

“Dit is belangrik dat ons dit van die begin af duidelik maak dat hierdie diere se welsyn ons eerste prioriteit is. Die diere sal intussen steeds by die Castledale-voerkraal in Berlyn in die Oos-Kaap gevoer en versorg word.”Ally sê Al Mawashi sal later verdere kommentaar lewer.

“Al Mawashi glo dat die uitvoer van lewende hawe ’n belangrike en katalitiese bedryf vir die Oos-Kaap se landbou-ekonomie is. In ’n tyd dat baie bedrywe ekonomies ontwrig word, neem die vraag na lewende hawe vir uitvoer na die Midde-Ooste en Noord-Afrika voortdurend toe.”