Die NDBV is op Vrydag 12 Maart deur die appèlhof in Bloemfontein verlof tot appèl geweier teen die hooggeregshof in Makhanda se beslissing om te weier om ’n tydelike interdik uit te reik wat Al Mawashi sou verbied om lewende skape van Suid-Afrika na die Midde-Ooste uit te voer.

Die appèlhof het die NDBV se aansoek met koste van die hand gewys.

Luidens ’n verklaring deur Al Mawashi is dit die sesde hofsaak wat die NDBV verloor sedert dié organisasie in Maart 2020 ’n regstryd met die maatskappy begin het om die uitvoer van lewende hawe te stuit. Die gevolg is dat die NDBV vir Al Mawashi nou al miljoene rande in regskoste skuld.

Ally sê dit sal interessant wees om te sien hoe die nasionale loterykommissie, een van die organisasies wat die NDBV finansier, sal reageer op die NDBV se ontwrigting van groei in landelike gemeenskappe en die ekonomie as ’n geheel aangesien dit die kommissie se mandaat is om mense se lewensbestaan te verbeter, gemeenskappe op te bou en menswaardigheid te herstel.

Hy sê die NDBV se litigasie het die Oos-Kaapse ekonomie en sy mense sover R300 miljoen gekos omdat twee vragte nie toegelaat is om verskeep te word nie. Dít het boere en plaaslike gemeenskappe van ’n inkomste ontneem.

Volgens hom is dit ook onregverdig teenoor die plaaslike takke van die DBV, wat volgens wet finansiële bydraes aan die nasionale DBV moet maak, dat dié bydraes gebruik word om spoke op te jaag plaas daarvan om werklike dieremishandeling te beveg.

Ally sê Al Mawashi is nie van plan om homself aan Suid-Afrika te onttrek nie en sal aanhou om die Oos-Kaapse, Noord-Kaapse en Vrystaatse boere wat skape aan die maatskappy verskaf, te ondersteun.

Mnr. JP Roodt, woordvoerder vir Al Mawashi, sê die NDBV het volgens die maatskappy die uitvoer van lewende hawe misbruik om geld in te samel en dat die massiewe regskoste wat hy nou moet betaal, nie net tot selfvernietiging kan lei nie, maar ook ’n geloofwaardigheidskrisis vir die organisasie skep.

“Die NDBV se optrede teenoor die uitvoer van lewende hawe onderstreep die leierskapskrisis in die organisasie. Die feit dat die NDBV verlede week ’n verklaring uitgereik het om aan te kondig dat hy hom as ’n lid van die koördineringskomitee vir die welstand van lewende hawe onttrek, bewys wat ons reeds gesê het: Die NDBV stel nie belang in diere se welstand nie en tree op soos diereregteorganisasies wat teen rooivleis en veeboerdery gekant is.”

Snr.inps. Grace de Lange, bestuurder van die NDBV se eenheid vir die beskerming van plaasdiere, sê die organisasie se mandaat is om alle diere te beskerm “of Al Mawashi dink dit is ’n mors van geld of nie”.

Sy sê die NDBV sal vandeesweek met sy regspan ontmoet om hul volgende stap te oorweeg.Die NDBV was nog nooit aanboord tydens die verskeping van skape vanaf Suid-Afrika na die Midde-Ooste nie en het onlangs versoek dat hy toegelaat word om as “nie-partydige waarnemer” op Al Mawashi se skip die volgende verskeping mee te maak.

De Lange sê daar is meer as genoeg bewyse dat skape tydens die vaart vanaf Australië na die Midde-Ooste ly en dat dìt hul saak teen verskeping vanaf Suid-Afrka steun aangesien die skape aan dieselfde “haglike” omstandighede blootgestel word.