Die NDBV het hom verlede jaar tot die hooggeregshof gewend om ’n tussentydse interdik teen Al Mawashi se verskeping van skape na die Midde-Ooste te bekom. Die interdik is nie toegestaan nie.

Luidens ’n verklaring deur Al Mawashi het die Grondwethof bevind dit sou nie in die belang van geregtigheid wees om verlof tot appèl toe te staan nie. Die hof het verder aangedui dat dit ongewoon is om teen tussentydse interdikte te appelleer aangesien dit nou sinloos sou wees en die appèl waarskynlik nie sal slaag nie.

Mnr. Ilyaas Ally, besturende direkteur van Al Mawashi SA, sê die Grondwethof se beslissing verskaf duidelikheid en vertroue in die uitvoer van lewende hawe. “Die beslissing verwyder die vraagteken wat gehang het oor Suid-Afrika se vermoë om ’n betroubare handelsvennoot vir voedselsekerheid in die Midde-Ooste te wees.”

Ally sê die uitspraak volg op ’n ruim invloei van buitelandse belegging van meer as ’n halfmiljard rand vir die Oos-Kaap om ’n lewendehawe-bedryf te skep op versoek van die Suid-Afrikaanse regering.

“Boere, die georganiseerde landbou en die regering moet nou saamstaan om die lewendehawebedryf te bevorder om markaandeel te wen en die mededingendheid van Suid-Afrikaanse rooivleis in die Midde-Ooste te verbeter, wat ’n langtermyn- en volhoubare mark verskaf.”