Dr. Mphane Molefe, direkteur vir openbare gesondheid: veeartsenydienste by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op 31 Maart amptelik kennisgewing gegee dat die konsepriglyne oopgestel is vir kommentaar.

Mnr. Gerhard Schutte, bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê die RPO verwelkom die feit dat nuwe konsepriglyne opgestel is.

Die doel van die konsepriglyne, wat saam met die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) die verskeping van lewende hawe vanaf Suid-Afrika sal reguleer, is om dieresorgstandaarde wat op feite gebaseer is te bied, die welstand van diere tydens verskeping te waarborg en te verseker dat diegene betrokke by die verskeping volle verantwoordelikheid vir die diere tydens verskeping sal aanvaar.

Schutte sê die RPO se standpunt is nog altyd dat hy die handel van lewende hawe vir slagdoeleindes ondersteun mits dit aan internasionale dieresorgstandaardie voldoen. “Daarom is dit belangrik dat hierdie konsepriglyne amptelike riglyne word en toegepas word.”

Hy sê die rooivleisbedryfsforum (RMIF), waarvan die RPO ’n lid is, bestudeer die konsepriglyne en sal daarna kommentaar daarop lewer. “Ons wil verseker dat dit in ooreenstemming is met die OIE se standaarde en ander internasionale dieresorgstandaarde.”

Schutte sê die RPO is baie opgewonde oor die verskeping van lewende hawe en dat daar aanduidings is dat tot 6% van die plaaslike skaapproduksie uitgevoer sal kan word. “Daar is ook potensiaal vir die uitvoer van bokke en natuurlik beeste. Ons wil hê dat hierdie handel volgens spesifieke riglyne gedoen moet word sodat dit op ’n volhoubare en deurlopende wyse kan geskied.”