Mnr. Christiaan de Jager, ’n Suid-Afrikaanse teler van Chianina-beeste, sou op 5 Desember elf van sy beste bulle daar opveil, maar toe steek die regering enkele dae voor die veiling ’n stokkie daarvoor.

De Jager wat by Badplaas, in Mosambiek en in Italië met die ras boer, sê hy het ’n wettige invoerpermit bekom om die bulle in Botswana te verkoop en die beeste is reeds daarheen vervoer.

Nou bied hy hulle uit die hand aan vir enigiemand wat ’n aanbod wil maak. “Ek weet nie of hulle dit ook gaan verbied nie,” sê hy. “Ek mag die beeste weens Suid-Afrika se bek-en-klouseer-regulasies nie weer terugbring om vir teling gebruik te word nie. Die bulle wat ek nie kan verkoop nie, sal ek in Botswana moet laat slag.” Dit sal ’n terugslag vir die Chianina-bedryf wees, aangesien dit topklas bulle is, waaronder die Suid-Afrikaanse senior kampioen, Okavango.

De Jager sê ’n paar Botswana-beesboere het vroeër aangedui hulle is ontevrede met sy voorneme om bulle van hierdie Italiaanse ras daar te verkoop. Hy het hulle tegemoet gekom deur sy veilingsdatum tot ná die plaaslike bulveilings aan te skuif.

Op 1 Desember het iemand van Botswana se departement van landbou-ontwikkeling mnr. Nico Vos van Stockman’s Choice, ’n afslaersmaatskappy van Botswana, gebel en hom gevra om nie die veiling te hou nie. De Jager het geweier. Toe verbied die departement die opveil van alle ingevoerde diere.

Luidens die amptelike brief van mnr. Boikhutso Rabasha, hoof van openbare betrekkinge by die departement se permanente sekretariaat, word lewendehawe-afslaers ingelig dat die opveil van ingevoerde diere met onmiddellike effek verbied word. Sy redes is “om die plaaslike stoetbedryf te beskerm, aangesien dit nog in sy kinderskoene is”, en om boere “teen die storting van minderwaardige teelmateriaal te beskerm”.

Suid-Afrikaanse Chianina-telers sê dit is juis hoekom die verbod verdag lyk, wat die aanbod bestaan uit die beste bulle, waaronder ’n nasionale kampioen.

“Ek sal voortgaan om die Chianina in Botswana bekend te stel. Daar is reeds ’n paar bulle in dié land en hulle vaar uitstekend om swaar speenkalwers te teel wat vir boere baie geld in die sak bring,” sê De Jager.