Volgens die departement van waterwese se webwerf was die Tzaneendam teen 15 Junie net 19% vol en die Ebenezerdam net 16% vol. Dit is 43% minder water as wat daar die ooreenstemmende tyd verlede jaar beskikbaar was, sê mnr. Jacque Kruger, uitvoerende hoof van die Letaba-watergebruikersvereniging.

Hy sê die vereniging het 30 miljoen m3 water nodig om in dieselfde posisie as verlede jaar hierdie tyd te wees en voeg by dat dit nie noodwendig ’n gunstige posisie was nie. Teen die huidige verbruik sal dag zero vir hierdie gebied einde Oktober aanbreek. Dan sal die boere van die distrikte Tzaneen en Letsitele nie meer water hê om hul gewasse te besproei nie.

Wonderwerk

Tog glo Kruger Letaba se watergebruikers kan die onmoontlike regkry deur hul verbruik só te bestuur dat hulle met die bietjie beskikbare water sal deurkom tot begin Desember. Trouens, planne wat boere en die watergebruikersvereniging gesmee het, werp reeds vrugte af.

Kruger noem dat hy byvoorbeeld altyd ten minste 3,5 m3 per sekonde uit die Tzaneendam moes laat vloei net om die ooreengekome vloei vir die Kruger-wildtuin te hê. Deur bestuur van die water stroomaf van die Tzaneendam op te skerp het gebruikers en die vereniging dit reggekry om hierdie syfer tot 1,8 m3 per sekonde te verlaag.

Om dit reg te kry moes elke gebruiker se gebruik akkuraat gemeet en bestuur word. Enige gebruiker wat sy kwota oorskry, word beboet. Deur almal saam te werk en hulle tot spaarsamige verbruik van die water te verbind kan die gebruikersvereniging foute en tekorte reg bestuur, sê Kruger.

Hy wys daarop dat die besparing en die opoffering deur boere gemaak word en spreek sy kommer uit oor die gebrek aan dissipline by munisipaliteite wat ook water aan die Letaba-stelsel onttrek.

Munisipaliteite help nie

’n Toevoerpyp van Ebenezerdam na ’n watersuiweringsaanleg van die Tzaneen-munisipaliteit lek blykbaar soos ’n sif en baie min van die water wat Kruger vir die munisipaliteit uitlaat, bereik die aanleg. Daarvoor kan die gebruikersvereniging nie pa staan nie.

Boonop oorskry die Polokwane-munisipaliteit aanhoudend sy onttrekkingskwota uit die Ebenezerdam dermate dat dit boere bokant die Tzaneendam se oeste in gedrang kan plaas.

Die Polokwane-munisipaliteit behoort eintlik water van die Dap Naudé-dam af te kry, maar omdat die infrastruktuur tussen die stad en die dam al jare lank vervalle is, kan die dam nie gebruik word nie.

Daar is ook nog nie begin met werk aan die Tzaneendam se wal waarvan die oorloop al vyf jaar gelede afgebreek is om die damwal hoër te bou nie. Die dam kan tans net 60% van sy oorspronklike kapasiteit hou.