“Dit reën maar altyd eers van Oom Paul (oudpres. Paul Kruger) se verjaardag af,” volgens me. Lida Steele, ’n jare lange inwoner van Mokopane (Potgietersrus).

Dele van die provinsie het selfs onder hael deurgeloop, veral op die N1-snelweg tussen Mookgophong (Naboomspruit) en Mokopane. Die Sprinkbokvlakte, Zebediela, Marble Hall en selfs dele van die oostelike Laeveld het reën gekry.

“Maar ’n millimeter of twee op die dorp,” sê mnr. Pieter Vorster, voorsitter van Agri Letaba, oor reën by Tzaneen. Dit het ook nie op Letsitele gereën nie, en dié belangrike sitrusproduksiegebied kry ook nie meer water uit die byna leë Tzaneendam nie.

’n Week ná die eerste reën het enkele buie weer hul opwagting gemaak. Hierdie keer is daar op plekke tot soveel as 100 mm gemeet, terwyl ander dele nie ’n druppel gekry nie. Mnr. Dricus Botha, bestuurder van TLU SA Noord, sê die reën het maar “in kolle en strepe” geval. Dit het byvoorbeeld 12 mm op Dendron gereën en 20 mm op Bochum. Tussen Maasstroom en die Zanzibar-grenspos op Suid-Afrika se grens met Botswana het dit ook goed gereën, maar teen die Limpoporivier het dit nog niks gereën nie.

Sulke kol-kol-reën vroeg in die seisoen is te wagte, en boere hoop nou op goeie, algemene reën, sê Botha. “Dat dit op die gewone tyd begin reën het in die provinsie, gee ’n mens hoop, maar ons damme gaan nie vol kom met sulke enkele buie nie. Ons het minstens ’n week se goeie reën oor die provinsie nodig.”

droogte,
Terwyl dit op dele van die Springbokvlakte en plek-plek in die Waterberg en selfs in die Laeveld gereën het, is daar plekke in die verre noorde van Limpopo waar daar nog geen druppel reën geval het nie. Boonop het plekke soos Maasstroom in die vorige jaar net 160 mm reën gekry. Selfs al reën dit nou daar, gaan landboutoestande ’n ruk nodig hê om te herstel, sê mnr. Dricus Botha, bestuurder van TLU SA Noord. “Onthou, dit reën nie voer nie,” sê hy. Foto: Jasper Raats
reën,
Die eerste reënbui van 2019-’20 trek in die verte oor die Springbokvlakte. Foto: Jasper Raats