Dit volg op uitsonderlik goeie reën sedert middel Januarie toe die tropiese storm Eloise Suid-Afrika getref het. Hoewel reën op plekke groot skade aangerig het, het dit vir boere wat uit die Letaba-waterstelsel besproei, net betyds gekom.

Teen einde verlede jaar was die Tzaneendam maar 10,5% en die Ebenezerdam 14,5% vol. Die Tzaneendam het op 22 Februarie begin oorloop en die Ebenezerdam se vlak het op 73% gestaan. By Louis Trichardt loop die Albasinidam ook oor. Ander damme wat meer as 100% vol is, is die De Hoopdam, Flag Boshielodam, Glen Alpinedam, Klaseriedam, Mokolodam, Rust de Winterdam en Vergelegendam.

Sedertdien waarsku die weerdiens dat dit nie die laaste swaar reën weens tropiese storms vir die noordoostelike dele van die land sou wees nie. Hiervan kan die inwoners van Musina aan Limpopo se noordgrens getuig. Dié dorp het op Maandag 22 Februarie byna 200 mm reën gekry en daarmee saam erge skade aan sy infrastruktuur. Mnr. Riekert Botha wat langs die Nzhelelerivier boer, sê dit het hom Dinsdag weens verspoelde paaie drie en ’n half uur gekos om die 40 km dorp toe af te lê. Die Nzheleledam se vlak staan op 121% en die rivier is in vloed.

Wanneer die Tzaneendam vol is, hou dit 156,6 miljoen kubieke meter water. Die wal is egter meer as twee jaar gelede afgebreek tot ’n vlak waar die dam net 60% van sy volle kapasiteit kan hou. Dit is gedoen sodat ’n hoër wal met sluise gebou kan word wat die dam se kapasiteit met 25% sal vergroot.

Die foto’s wys hoe die damvlak van die Tzaneendam by die wal gelyk het op 24 Februarie vanjaar. Foto: Jasper Raats
Tzaneendam
Die foto’s wys hoe die damvlak van die Tzaneendam by die wal gelyk het op 27 November 2020. Foto: Jasper Raats
Ebenezerdam
Ná goeie reën in Desember en vroeg Januarie het water uit Stanford Lake in die Ebenezerdam begin oorloop, maar die dam was nog baie leeg. Ná swaar neerslae sedert Eloise getref het, staan die damvlak nou op tussen 70% en 80% met ’n sterk invloei soos wat op die foto gesien kan word. Foto: Jasper Raats
Letabarivier
Die Letabarivier by Letsitele soos dit op 25 Januarie vanjaar gelyk het. Foto: Jasper Raats
Letabarivier
Die Letabarivier by Letsitele soos dit in November 2019 gelyk. Foto: Jasper Raats