Mnr. Chris Joubert (62) is erg aangerand en vasgebind en sy vrou, Leonise (61), is verkrag en in haar regterbeen geskiet. Leonise het aan Netwerk24 toestemming gegee dat haar naam bekendgemaak mag word omdat sy glo mense moet sien dat wat met haar en Chris gebeur het, hulle nie sal breek nie.

Die drie verdagtes is Woensdag kort ná die voorval in hegtenis geneem en het vandag op aanklagte van huisbraak met verswarende omstandighede, roof met verswarende omstandighede, verkragting en poging tot moord in die landdroshof op Soekmekaar verskyn.  

Mnr. Drickus Botha, uitvoerende hoof van TLU SA Noord, sê hy voel daar moet elke keer dat mense in die hof verskyn ná ’n geweldsmisdaad op ’n plaas ’n optog in solidariteit met die landelike gemeenskap gehou word. “Die Vaalharts-gemeenskap het dit gedoen ná die moord van die Brand-familie en nou het ons dit ook in Limpopo gedoen.”

Hy sê op dié manier stuur dit ’n boodskap uit dat mense genoeg gehad het en saamstaan teen misdaad.

Botha skat tussen 800 en 1000 mense het in 300 tot 400 voertuie aan die optog deelgeneem. “Ek was beïndruk met die goeie orde wat gehandhaaf is deur mense wat by die hof opgedaag het. Net tien mense kon die hofsaal binnegaan, die res het almal geduldig buite gewag tot na elfuur toe die saak uitgestel is.”

Die drie verdagtes gaan om regshulp aansoek doen. Die saak is uitgestel tot 14 Augustus wanneer hulle weer in die hof sal verskyn en waarskynlik om borgtog sal aansoek doen.