Hoewel die siekte ook in ander wêrelddele voorkom, is die 61 mense wat reeds plaaslik gesterf het, die meeste wat nog aangeteken is.

’n Paneel kundiges het vandag in Pretoria op ’n byeenkoms van die Nasionale Persklub gepraat oor die rol wat die private sektor en die publiek kan speel om listeriose aan bande te lê. Me. Linda Jackson van Food Focus, 'n maatskappy wat fokus op voedselveiligheid, inligting asook opleiding en oudits oor voedselveilgheid, het gesê die hele voedselbedryf is uiters bekommerd. “Dit is iets wat ekonomiese gevolge het wat ons nie kan bekostig nie.”

Dr. Requier Wait, wat namens Agri SA en voedselprodusente as spreker opgetree het, sê Agri SA is nét so bekommerd oor die situasie as ander belanghebbendes. Die organisasie het sy bereidwillgheid om te help waar hy kan aan die Departement van Gesondheid en ander gesondheidsowerhede oorgedra. “Ons wil ook help om ons lede en die publiek meer bewus te maak van die siekte en sy gevolge. Daarvoor maak ons gebruik van ons provinsiale strukture en kommunikasiekanale.” Wait sê die belangrikste is nou om die oorsprong van die besoedeling te bepaal en dit daar te bestry.

Suid-Afrikaanse voedsel is baie veilig

Jackson én me. Matlou Setati van die SA Raad op Gebruikersgoedere (CGCSA) het die versekering gegee dat Suid-Afrikaanse voedsel baie veilig is. Jackson sê groothandelaars het die afgelope dekade ook hul eie vereistes en standaarde baie verhoog.

Jackson sê studies toon dat selfs voedsel in die informele mark dikwels baie veilig is. Sy skryf dit toe aan kos wat geëet word kort nadat dit voorberei is en wat nie opgeberg word nie. “Daar is nie ’n kwessie oor raklewe en ’n koueketting nie. Daar is wél kommer oor ’n gebrek aan skoon, lopende water en die verbruik van vars groente, veral blaargroente.”

Oor die koste van gehaltebeheer en voedselveiligheid het Wait gesê voedselprodusente en verwerkers moet dit as ’n belegging in die volhoubaarheid van hul ondernemings beskou. “Dit is van die grootste belang dat verbruikers nie vertroue in jou produk moet verloor nie.”

Naspeurbaarheid

Hy glo ook daar is genoeg naspeurbaarheid om ’n besmette produk terug te voer na die plek waar dit geproduseer is. Jackson het dit beaam. “In oudits word sekere vlakke van naspeurbaarheid vereis. Veral wat lewende hawe betref, is daar byvoorbeeld verpligte dokumentasie wat by ’n abattoir verskaf moet word wat terugspeurbaarheid moontlik maak.”

Jackson sê uit internasionale navorsing blyk dit dat die listeriose-bakterië soms by blaaragtige groentesoorte voorkom. “Wat boere van hulle kant kan doen, is om te let op die gehalte van water wat hulle gebruik om gewasse mee te besproei, asook die gehalte van bemesting. ’n Mens moet egter besef listeriose kan ook in die grond voorkom. Dit is dus nie moontlik om enige besmetting heeltemal te voorkom nie.”

“Wat ons nou in die nagte wakker hou, is om die oorsprong van die huidige uitbreking te vind. Alles draai daarom om die bron op te spoor sodat ons die siekte ’n nekslag kan toedien,” sê Setati.