Dr. Maryke Henton, spesialis-veterinêre bakterioloog van Vetdiagnostix, sê Listeria monocytogenes-bakterieë word sowat een maal elke vyf jaar uit monsters wat deur haar laboratorium ontvang word, geïsoleer. Die siekte is nie net tot mense beperk nie, maar kan ook in diere voorkom.  

“In die verlede is gevalle aangemeld waar beeste en skape weggooi-aartappels van swak gehalte gevreet het, die siekte opgedoen het en gevrek het. Dit het gedurende die winter in die koue Hoëveld van Mpumalanga gebeur aangesien die kiem daarvan hou om in lae temperature te vermeerder.

"Die kiem is ook onlangs geïsoleer uit ’n breinmonster van ’n skaap wat uit KwaZulu-Natal gestuur is. Die kiem is ook een keer uit ’n mastitis-monster van ’n melkkoei geïsoleer, asook uit enkele aborsies,” het Henton gesê. 

Sy sê die huidige Listeria-probleem is egter ’n menslike mediese een, en die navorsers by die NICD [National Institute for Communicable Diseases] behoort geraadpleeg te word. “Hulle versamel tans soveel stamme as moontlik sodat hulle molekulêre toetse kan doen om die bron op te spoor.”

Die bekende veearts Faffa Malan sê drie sindrome van die siekte kom voor: Breinvlies- en breinontsteking (meningo-ensefalitis), aborsies of stilgeboortes, en bloedvergiftiging (septisemie). Mastitis en oog- en oogslymvliesontsteking is ook al gesien.

“Die ontsteking van die brein en breinvliese word die meeste in herkouers gesien terwyl die bloedvergiftigingsindroom meer dikwels in enkelmaagdiere en jong herkouers voorkom,” sê Malan.

Listeriose kom dwarsdeur die wêreld voor, maar word meestal gevind in areas waar die temperatuur gematig en koud is, soos in Nieu-Seeland, gedeeltes van Australië, Noord-Amerika, Europa en Groot Brittanië. Kliniese siektes kom veral voor gedurende die laat winter en lente.

Malan deel meer besonderhede oor die siekte en kliniese tekens daarvan by diere onder Vra vir Faffa. Lees gerus meer hier.