“Identifiseerbare koste tot hede wat direk met die produk-onttrekking en staking van produksie te doen het, word op nagenoeg R75 miljoen geraam,” lui die verklaring.

Dié skatting sluit die volgende in:

·         Produkte wat uit winkels verwyder is en deur klante teruggebring is;

·         Die waarde van voorrade, rou materiale en produkte wat in wording was;

·         Verspreiding- en hanteringskoste;

·         Vernietigings- en stortingskoste;

·         Toetse;

·         Media- en kommunikasiekoste.

Indirekte impak

Die maatskappy sê daar is ’n verdere finansiële impak weens die verlore inkomste omdat polonie nie verhandel word nie, sowel as die onverwagse impak op die maatskappy se oorblywende kouevleise en ander hoenderprodukte.

“Hierdie indirekte impak is moeilik om te bepaal of te kwantifiseer, maar die bestuur skat die impak op wins op nagenoeg R20 miljoen per maand. Die bestuur skakel aktief met die Regering ten einde bedrywighede by die Wolwehoek-verwerkingsaanleg so gou as moontlik te laat hervat.”

Die maatskappy voeg by dat hy kosveiligheid voorop stel en dat hy “elke voorsorg sal neem” om produkte, kliënte en verbruikers te beskerm.