Dit is die eerste keer dat CIRAD, die Franse landbounavorsingsentrum vir internasionale ontwikkeling, en INRAE, die Franse navorsingsinstituut vir landbou, voedsel en die omgewing, gesamentlik ’n ooreenkoms met ’n Afrika-instelling sluit.

Die drie organisasies sê in ’n verklaring die doel van die ooreenkoms is om die bestaande samewerking tussen Suid-Afrikaanse instellings vir navorsing en ontwikkeling in die landbou en verwante velde met hul Franse eweknieë te ondersteun en versterk.

Hulle wil hande vat om aandag te gee aan probleme in Suider-Afrika.

CIRAD beywer hom vir volhoubare ontwikkeling in tropiese en Mediterreense gebiede en het in 50 lande ’n teenwoordigheid.

INRAE is begin vanjaar gevorm toe INRA en IRSTEA saamgesmelt het, en streef daarna om ’n sleutelrol te speel in die veranderinge wat nodig is om aan belangrike internasionale kwessies aandag te gee.

Die LNR en CIRAD het reeds in 1999 ’n samewerkingsooreenkoms gesluit en die LNR en INRA in 2014.

Die organisasies werk saam op die gebiede van dieregesondheid, veral rakende Afrika-varkpes, genomiese seleksie by beeste, plantbeskerming, klimaatsverandering en die bevordering van gesprek en kennisverspreiding in Afrika.

Die nuwe ooreenkoms sal samewerking in die vorm personeeluitruiling behels, asook die gesamentlike organisering van wetenskaplike gebeure en projekte oor verskeie van wetenskaplike temas, insluitend familieboerdery, aanpassing by klimaatsverandering en die wetenskap se uitwerking.

LNR
Dr. Shadrack Moephuli (links), uitvoerende hoof van die Landbounavorsingsraad, en mnr. Aurélien Lechevallier, Frankryk se ambassadeur in Suid-Afrika, onderteken ’n samewerkingsooreenkoms. Foto: LNR