“Hoendervleis bly arm mense in Suid-Afrika se hoofbron van proteïene. Armer huishoudings betaal nou meer vir hoendervleis omdat BTW in April van 14% tot 15% gestyg het,” sê die Food and Allied Workers Union (Fawu) in ’n verklaring.

Die vakbond sê verder dit is vir hom vreemd dat net bruinbrood van BTW kwytgeskeld is, terwyl baie armer huishoudings witbrood verkies. “Ons eis dat witbrood ook tot die lys (van BTW-vrye produkte) gevoeg word.”

Fawu sê sy lede werk hoofsaaklik in die landbousektor en hy verteenwoordig dus ook werkers in die pluimveebedryf.

“Ons voer al jare lank veldtogte teen die invoer van goedkoop of ‘gestorte’ hoendervleis omdat dit die ekonomie benadeel en veral werkgeleenthede verlore laat gaan. Duisende werkers het reeds hul werk verloor toe produksie-aanlegte noodgedwonge moes sluit.”

Die vakbond sê ’n sterk en florerende pluimveebedryf is in sy beste belang. Hy steun dus die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) en die teenstortingsbeweging FairPlay se veldtog dat hoendervleis van BTW vrygestel moet word.

Mnr. Nhlanhla Nene, Minister van Finansies, het vroeër vanjaar ’n paneel kenners gevra om die mandjie produkte wat van BTW vrygestel is, te heroorweeg, asook om te kyk hoe die hoër BTW-koers se uitwerking op arm en lae-inkomstehuishoudings versag kan word.

Die paneel sou aanvanklik teen einde Junie ’n verslag met aanbevelings gereed moes hê, maar die sperdatum is tot einde Julie uitgestel.

Die Tesourie het vroeër in ’n verklaring gesê Nene sal die verslag oorweeg en, indien nodig, ’n wetsontwerp in die Parlement ter tafel lê. Die Parlement se betrokke staande komitees sal dan verdere verhore hou voordat die wetsontwerp aanvaar kan word.

Die Tesourie het ook gesê Nene sal die paneel se bevindinge bekend maak.