Die bestuurspan van Vaalharts Katoen, geleë op Hartswater, het amptelik op Vrydag 12 Maart die bestuur van die Loskop-pluismeule oorgeneem. Die pluismeule op Marble Hall sal voorlopig bekend staan as Vaalharts-Loskop Katoen tot alle onderhandelinge afgehandel is.

Mnre. Louis Olivier, besturende direkteur van Vaalharts Katoen, en Johan Wolhuter, hoof finansiële beampte, sal ook hierdie onderskeie rolle by Vaalharts-Loskop Katoen vervul. Olivier is ’n landboukundige met 30 jaar ondervinding as produsent en sakeman in die katoenbedryf. Wolhuter behartig reeds die afgelope twee jaar die finansiëlebestuursfunksie by Vaalharts.

In ’n verklaring sê Loskop se direksie alle verpligtinge tot 12 Maart 2021, wat onder die vorige bestuur aangegaan is, sal op meriete bestuur word met oop gesprekke tussen die betrokke belanghebbendes. “Die pluismeule sal normaal in bedryf wees sonder ’n onderbreking in enige van die dienste. Die huidige gerugte dat Loskop-pluismeule sy deure toemaak, is dus ongegrond,” lui die verklaring.

Vaalharts Katoen en Vaalharts-Loskop Katoen sal as onafhanklike maatskappye bestuur word, elk met sy eie direksie.

Olivier sê hy is terdeë bewus van die historiese probleme wat oorkom moet word. Hy is egter optimisties dat die Suid Afrikaanse katoenbedryf kerngesond is en dat hulle met die toepassing van ’n suksesvolle Vaalharts-sakemodel weer die pluismeule op Marble Hall tot nuwe hoogtes sal ontwikkel.

Die direksie, onder die voorsitterskap van mnr. Jannie Terblanche, is tevrede met die prosesse om die probleme aan te pak. Hy meen dat verhoudings herstel sal word om die groei van die plaaslike katoenbedryf opnuut te stimuleer. 

katoen
Mnre. Johan Wolhuter, Jannie Terblanche en Louis Olivier. Foto: Verskaf