Mnr. Francois Baird, FairPlay-stigter, sê in ’n verklaring hoendervleis is die nasie se stapelvoedsel en ’n belangrike bron van proteïene vir arm mense. “Die Regering kyk na maniere om huishoudings met ’n laer inkomste se BTW-las te verlig. Daar is geen doeltreffender manier om dit te doen as om BTW op hoendervleis te verwyder nie.”

Nadat die Regering BTW vroeër vanjaar van 14% tot 15% verhoog het, het die Tesourie ’n paneel kundiges, nou bekend as die Woolard-paneel, aangestel om te ondersoek of die groep BTW-vrye produkte uitgebrei moet word om die uitwerking van die hoër BTW-koers op armes te versag. Volgens Baird kon die paneel nie konsensus bereik of BTW op hoendervleis betaalbaar moet wees nie. Die kwessie is daarom na die Parlement verwys.

“Dit is ’n saak van nasionale belang. FairPlay doen ’n beroep op alle LP’s, veral dié van die regerende party, om na die belange van arm mense om te sien.”

Baird sê die Woolard-paneel se aanbevelings sal vandeesweek onder die loep kom. Dit word weer later vanjaar bespreek nadat die Regering openbare kommentaar oorweeg het. Kommentaar kan tot einde vandeesmaand ingedien kan word.

FairPlay sê hy gaan sy veldtog vir BTW-vrye hoendervleis nou op parlementslede van alle partye rig, en ook saam met vakbonde en ander organisasies werk om verligting te bring vir diegene wat dit die nodigste het.

“Dit (BTW-vrye hoendervleis) is die beste manier om wyer toegang tot proteïene te verseker sodat kinders gesond kan grootword, ouer burgers die voeding kry wat hulle nodig het, en almal se voedselsekerheid beskerm word,” sê Baird.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.