Die hooggeregshof het verlede jaar gelas dat die plaas van 3 179 ha aan Rakgase verkoop moet word teen die prys wat hy in 2003 daarvoor sou betaal het. In 2003 het die departement ’n herverdelingstoelaag van R400 000 goedgekeur om Rakgase te help om die plaas van R1,2 miljoen te koop.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het egter voor die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gesê die departement sleep nie sy voete nie. Die kwessie oor die koopprys moet opgelos word. Die waarde van die grond vandag verskil baie van toe die aanbod aan Rakgase gemaak is. “Ons glo ons moet hou by die aanbod wat destyds gemaak is,” maar sy het aangedui dat met die nasionale tesourie gesprekke hieroor gevoer word.

Didiza het gesê die departement verstaan dat hy nie terug kan gaan op die kwessie soos die hofuitspraak aangedui het nie.

Die hof het op 4 September 2019 uitspraak gelewer dat die departement die grond, waarop Rakgase al 28 jaar boer, binne 30 dae aan hom moet verkoop teen die prys wat hy in 2003 daarvoor sou betaal het.

Steyn het teruggekap dat die departement wel sloer en dat daar weer eens ’n nuwe kwessie ingebring word wat die proses vertraag vir Rakgase om die grond te bekom.

“Ek het gedink ons is verby die kwessie van die geld, dit is ’n hofbeslissing. My kommer is dat daar nou ’n nuwe kwessie is en die departement weet hy sleep onnodig sy voete.”

’n Nuwe kwessie

Die nuwe kwessie wat die departement nou voor Rakgase se deur gegooi het, is ’n kwessie rondom onwettige plakkers op die grond. Die departement beweer dat Rakgase het in 2014 aan grondbesetters en/of plakkers toestemming gegee om daar te bly en dat hy onderneem het om die grond te onderverdeel.

Dit is volslae leuens, het Steyn gesê. Rakgase het bewyse dat hy hom na die hof gewend het om die besetters van die grond af te kry.