Agri SA sê in ’n verklaring hy eis dat die lys wat deur mnr. Deshi Ngxanga, provinsiale sekretaris van die ANC, in die provinsie versprei is, onmiddellik herroep word. Agri SA beoog om die diplomatieke gemeenskap te betrek oor die ANC se ommekeer van sy verklaarde posisie dat produktiewe landbougrond nie geoormerk sal word nie. Die organisasie vergader vandag met mnr. John J. Sullivan, die Trump-regering se adjunkminister van buitelandse sake. 

“Ons veroordeel die optrede deur die ANC in die Noord-Kaap ten sterkste en sal die saak met erns hanteer,” sê mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA. “Ons is onverantwoordelike stellings in die aanloop tot die verkiesing te wagte, maar dié lys het slegs ten doel om goedkoop politieke steun te werf.”

In ’n dekkingsbrief saam met die lys plase sê Ngxanga die oudit van private en staatsgrond word gedoen sodat, sodra artikel 25 van die Grondwet verander is, daar spoedeisend voortgegaan kan word om die grond veral onder jong mense te verdeel wat belang stel om dit te bewerk. Hy voeg by daar sal met ANC-strukture, alliansievennote en ander belanghebbendes saamgewerk word om die ingewikkelde proses glad te laat verloop. 

Me. Naledi Gaosekwe, woordvoerder van die ANC in die provinsie, sê die lys is bloot voorbereidingswerk in die lig van die parlementêre proses om die Grondwet te wysig en moes nie versprei gewees het nie.

Mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA, sê pres. Cyril Ramaphosa en topamptenare van die ANC het by herhaling die versekering gegee dat produktiewe plase nie vir onteiening sonder vergoeding geoormerk sal word nie. Agri SA het dit ook duidelik gestel dat hy enige wysiging van artikel 25 van die Grondwet teenstaan.

“Agri SA vergader met die regering, die ANC en alle ander organisasies met die verstandhouding dat elkeen die regsprosesse en die oppergesag van die reg sal respekteer,” sê Kriek. “Ons beskou die jongste uitspraak van die Noord-Kaapse ANC as in stryd met hierdie beginsels. Ons doen ’n beroep op die nasionale leierskap van die ANC om in te gryp. Ons sal nie huiwer om te litigeer ten einde private eiendomsregte te beskerm nie, wat ons as absoluut noodsaaklik beskou om broodnodige ekonomiese groei in Suid-Afrika te verseker.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die nuwe landbounetwerk Saai, sê dit is skrikwekkend dat die politieke party wat betrokke is by die grootste korrupsieskandaal in die geskiedenis van die land nou, sewe weke voor die verkiesing, rondhardloop en plase vir onteiening sonder vergoeding identifiseer.

Hy wys daarop dat die produktiwiteit van plase geensins in ag geneem is nie. Een plaas word geïdentifiseer bloot omdat die boer die meeste grond in die distrik besit. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.