Wetgewing verbied egter ondernemings om heeltemal van die netwerk af te gaan.

Agbiz vra die Regering om dié wetgewing te wysig “sodat mense minstens na hulself kan kyk en hul lot in hul eie hande kan neem om dié situasie te oorleef”, sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz.

Hy het op ’n Agbiz-mediadag oor die vooruitsigte vir 2019 gesê alle Suid-Afrikaners word deur beurtkrag geraak, maar voedselverwerkers word veral baie swaar getref.

Wanneer die krag onderbreek word, moet hulle die voedsel wat in die proses van verwerking is, weggooi, die masjiene skoonmaak en weer van vooraf begin, wat tot enorme verliese ly.

Purchase het gesê beurtkrag is baie lank op onlangse vergaderings van die Agbiz-raad en Busa se ekonomiese beleidskomitee bespreek.

“Eskom op sy eie kan die hele land laat faal.”

Onafhanklik

Purchase sê Agbiz raai sy lede sedert 2008 aan om onafhanklik van Eskom-krag te word, en diegene wat reeds daarmee begin het, is nou in ’n beter posisie as ander.

Volgens hom was daar in die Busa-komitee ook ’n lang bespreking oor die toekoms van Eskom en watter rol die private sektor behoort te speel.

“As almal van die netwerk af gaan, gaan Eskom met sy massiewe skuldlas bly sit. Wie gaan dit betaal? Die Regering sal dit moet betaal, en dus eintlik die belastingbetaler, terwyl ons nie hul dienste gebruik nie.

“Ons sal dus vir die sondes van die verlede moet betaal.”

Purchase het gesê daar is ’n Busa-taakspan, wie se lede volgens hom briljante mense insluit, onder andere voormalige Eskom-werknemers, wat besig is om planne op te stel om die situasie te beredder.

Purchase het ook gesê hy ken Eskom se nuwe uitvoerende hoof, mnr. Phakamani Hadebe, baie goed omdat hy voorheen die uitvoerende hoof van die Land Bank was.

“Hy is ‘n reguit, eerlike persoon. Hy sal die korrupsie daar beëindig.”

Lang herstel

Purchase het ook daarop gewys dat mnr. Jabu Mabuza, nuwe Eskom-voorsitter, voorheen die president van Busa was.

“Wat in tien jaar by Eskom vernietig is, sal egter nie in een jaar herstel kan word nie. Dit gaan waarskynlik tien jaar duur om Eskom om te draai.”

Volgens Purchase is daar nou vrese dat kragtariewe die volgende drie jaar met altesaam meer as 40% kan styg. Landbousake-ondernemings sê hulle sal dit nie kan bekostig nie.

Purchase raai ondernemings aan om haalbaarheidstudies te doen en die nodige kapitaaluitgawes vir hernieubare energie te oorweeg.

Oor die miljarde rande wat wanfunksionerende munisipaliteite Eskom skuld, het Purchase gesê dit word ook by Busa en by elke moontlike ander geleentheid bespreek.

“Dit is egter ook ’n politieke probleem. Ek dink nie die ANC-regering weet hoe om so ’n probleem voor die verkiesing te hanteer nie - om wanbetalers se krag af te sny.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.