Die hoop bestaan dat die aankondiging van die nuwe minimumloon vir plaaswerkers die landbousektor in Wes-Kaap, maar ook landswyd, sal stabiliseer.

Luidens ’n berig in The Sowetan gaan me. Mildred Oliphant, Minister van Arbeid, die nuwe loon op Maandag 4 Februarie 2013 aankondig. In ’n studie het die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) bevind boere sal ’n verhoging tot tussen R95 en R105 per dag vir seisoenale werkers kan bekostig, na gelang van die boer se belange. Die studie het ook bevind dat boere reeds ’n gemiddelde loon van R85 per dag betaal word.
 
Mnr. Anton Rabé, voorsitter van Agri SA se arbeidskomitee, sê hulle wil nie besiegel oor wat dié nuwe loon gaan wees nie. Aan die koerant het hy gesê die toestande verskil van plaas tot plaas. Sommige boere kan ’n loon bekostig wat ander nie kan bekostig nie.
 
Hoop
Rabé het aan Landbou.com gesê hopelik sal die aankondiging van die nuwe loon ’n mate van stabiliteit oor die kwessie tot gevolg hê.

“Ons is egter nie seker nie, want – soos wat ons al lank sê – dié saak gaan oor baie meer as net lone.” As die aankondiging stabiliteit bevorder, sal meer aandag aan die verskeie ander sake wat die kwessie aan die lig laat kom het – soos die bekostigbaarheid van arbeid – gegee kan word.
 
Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê die moontlikheid van stabiliteit sal bepaal word deur wat die loon uiteindelik is. “Dit gaan nie net oor die loonverhoging nie. Produksiekostes, en veral die koste van elektisiteit en brandstof, hardloop weg. Boere kry nie bygehou nie.”
 
Deelnemers aan die sogenoemde plaaswerkerstaking het ’n minimumloon van R150 per dag geëis. Die Food and Alllied Workers Union (FAWU) sê hulle hoop vir ’n verhoging van tot tussen R100 en R110 per dag.
 
Bron: Sowetan