Verhoogde tropiese laagdrukaktiwiteite kom oor die Indiese Oseaan voor, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. Die stelsel kan die Mosambiekkanaal en die kusgebiede van Mosambiek teen die naweek bereik. Dit kan swaar reën en moontlik oorstromings in die noordoostelike dele van die land, soos KwaZulu-Natal en die Laeveld, veroorsaak.

Die stelsel kan volgende week wes beweeg en swaar reën oor Mpumalanga, Gauteng, Limpopo, die sentrale tot oostelike dele van die Vrystaat asook die oostelike dele van Noordwes veroorsaak. Van ongeveer die tweede week in Maart kan die stelsel reën oor Namibië en die verre westelike dele van Suid-Afrika veroorsaak.

Tropiese laagdrukstelsels is baie onvoorspelbaar ten opsigte van die roetes wat dit volg wanneer dit oor Suider-Afrika beweeg.

Van den Berg sê dit is belangrik om te onthou dat die intensiteit van so ’n stelsel afneem wanneer dit oor land beweeg. Daar is ’n matige vloedgevaar oor die noordoostelike dele van Suid-Afrika in die laaste week van Februarie, wat weswaarts kan uitbrei in die eerste twee weke van Maart. Hoewel daar redelike afdroging begin plaasvind, bly damme en riviere vol. Swaar reën kan baie vinnig tot oorstromings lei.

Volgens Van den Berg dui weermodelle aan dat reën in die tweede week van Maart oor dele van die Noord-Kaap kan voorkom. Die tweede helfte van Maart lyk ook belowend vir reën oor die Noord-Kaap.

La Niña

Van den Berg sê gedurende vorige sterk La Niña-stelsels het swaar reën in Maart erge oorstromings veroorsaak. Van 24 tot 30 Maart 1976 het swaar reën baie erge oorstromings in die Benede-Oranjerivier tot gevolg gehad. Dele van Upington was onder water. Van die ergste oorstromings het in Maart 1988 voorgekom toe groot dele van die sentrale binneland, asook KwaZulu-Natal groot skade gehad het. Oorstromings het ook oor bykans dieselfde gebiede in April 1988 voorgekom.

Die La Niña-stelsel van die 2010-’11-seisoen het swaar reën vanaf Maart tot die eerste week van Junie veroorsaak. Hoewel die huidige La Niña-verskynsel begin verswak, behoort dit nog tot byna in die winter ’n invloed op reënval uit te oefen.

Volgens die Australiese buro vir meteorologie het die La Niña-stelsel sy spits bereik. Klimaatmodelle dui aan dat die El Niño Suidelike Ossilasie (Enso) teen die herfs neutraal sal wees, wat beteken dat nie ’n El Niño of La Niña sal voorkom nie. Die nat toestande van die huidige La Niña-stelsel sal egter oor die volgende drie maande voortduur. Die buro verwag dat bogemiddelde reën oor die tydperk veral oor die noordelike dele van Australië kan voorkom. Dié land se weerpatrone stem baie met Suid-Afrika s’n ooreen, aangesien die twee lande op dieselfde breedtegraad lê.

Produksietoestande

Uit ’n landbouproduksie-oogpunt lyk toestande oor die algemeen goed met die uitsondering van dele van die Oos-, Noord- en Wes-Kaap wat steeds erge droogte ervaar.

Die warm en sonnige toestande wat die afgelope tyd voorgekom het, het baie gehelp om die somergraanoes se potensiaal te verhoog.

Van den Berg sê gedeeltes van die somergewasse in die Oos-Vrystaat en Noordwes-Vrystaat is beskadig weens droogtetoestande, ’n oormaat reën of omdat hulle sonstralingsgebrek gely het. Dié gewasse kan swak opbrengste lewer.

Mnr. Jaco Breytenbach, ’n boer van Fouriesburg en ’n streekverteenwoordiger van Graan SA in die Oos-Vrystaat, het op een van die organisasie se virtuele streekvergaderings gesê hulle was baie bly dat hulle in die tweede week van Februarie vir die eerste keer in twee maande vir sewe dae aaneen net sonskyn gehad het. “Daar is boere hier wat sê hul koringlande begin weer groen word soos die koring uitloop omdat hulle nie in die lande kan kom om dit te stroop nie.”

Ander boere van die Oos-Vrystaat sê daar is beslis somergewasse met versuipskade. Sommige gebiede het groter probleme as ander, maar die omgewing lyk ongelooflik mooi.

“Een van die groot gevare tydens La Niña-toestande is die voorkoms van reën in veral Mei, wanneer grond-, soja- en droëbone geoes moet word. Dit sal raadsaam wees om betyds reëlings te tref om die oesproses so vinnig moontlik af te handel,” sê Van den Berg.