Mnr. Tim Brauteseth, DA-LP, wou in ’n skriftelike parlementêre vraag by Mabuza weet of hy in die lig van die onlangse stygings in aanvalle op boere en plaaswerkers samesprekings met mnr. Bheki Cele, minister van polisie, gevoer het om regeringsprogramme te koördineer sodat landbou-ondersteuning versnel word aan landelike plaasgemeenskappe, veral in KwaZulu-Natal.

Die groep vir justisie, misdaadvoorkoming en veiligheid, onder voorsitterskap van Mabuza, werk met geweldsmisdade, insluitend geweld teen boere en plaaswerkers.

Mabuza het gesê die regering erken en waardeer die beduidende bydrae wat die landbousektor tot die land se ekonomie lewer. Die interministeriële komitee vir grondhervorming en landbou probeer deurlopend om boere te ondersteun om te verseker dat die land voedselsekerheid ervaar en dat die landbou ’n belangrike deel van die land se ekonomie bly.

“As die regering sal ons verseker dat geen klip ongeroer gelaat sal word in die jag, inhegtenisneming, vervolging en vonnisoplegging van die oortreders wat die geweldsmisdade in ons boerderygemeenskappe pleeg nie.”

Breër maatskaplike kwessie

Hy het gesê terwyl die regering plaasmoode veroordeel, moet dit nie verpolitiseer moet word nie aangesien dit ’n breër maatskaplike kwessie is wat sny reg oor politieke en ideologiese verdelings.

“Ons rou oor die verlies van elke lewe, swart en wit, boer en plaaswerker, en sal soos ons altyd doen, die oortreders, swart en wit, jag en strafregtelik vervolg. Dit is daarom bemoedigend dat ons wetstoepassingsagentskappe onvermoeid werk om geweldsmisdade, wat plaasaanvalle insluit, te bestry.”

Volgens die misdaadstatistieke van die polisie kom die meeste plaasmoorde en -aanvalle in KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Gauteng en Limpopo voor. Die tesourie het in die spesiale aansuiweringsbegroting weens die Covid-19-pandemie R3,7 miljard toegestaan vir polisiëring.

Mnr. Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het aangekondig dat die provinsie die sekuriteit en beskerming van boere, plaaswerkers en plaasbewoners prioritiseer. Hy het ’n beroep op boerderygemeenskappe gedoen om saam met die regering te werk in pogings om geweldsmisdade te beveg.