Pres. Cyril Ramaphosa het Mabuza die taak toegesê om die interministeriële komitee oor grondhervorming te lei, wat pogings moet koördineer om die grondhervormingsproses te versnel.

Om die proses te versnel is ’n parlementêre ad hoc-komitee besig om ’n wysigingswetgewing op te stel om artikel 25 van die Grondwet te wysig sodat onteiening sonder vergoeding vir die doeleindes van grondhervorming pertinent daarin ingeskryf word.

Mabuza moes verskeie vrae rondom die werk van die interministeriële komitee beantwoord en ook die stappe wat gedoen word om te verseker dat die grondhervormingsproses inklusiwiteit en ’n samehorige samelewing bevorder.

Hy het benadruk dat die grondhervormingsproses benader sal word op ’n manier wat die land se wit boere nie sal wegstoot nie.

“Ons wil vir ons wit kommersiële boere sê, hulle is hier om te bly, is hier om te produseer. Hulle het na vore gekom en gesê hulle is gewillig om die nuwe toetreders te help met vaardighede. Ons kan nie hierdie bykomende kapasiteit verlore laat gaan nie. Dit is mense wat weet hoe om die grond te bewerk en ons jaag hulle nie net weg nie. Dit sal nooit gebeur nie.”

Mabuza het verder aangedui dat die regering vasbeslote is om nie die produktiewe kapasiteit van die land te versteur nie.

Hy het egter bygevoeg dat erken moet word dat die waardigheid herstel moet word van mense wie se grond ontneem is. “Ons is in die middel van ons reis. Ons het dit reggekry om mekaar te aanvaar en te versoen. En versoening beteken ons moet aandag gee aan die dinge wat in die verlede verkeerd was en voortgaan met ons reis.”

Mabuza is dit eens dat ’n goedbestuurde grondhervormingsprogram geen bedreiging vir die landbousektor en die ekonomie in die algemeen inhou nie. Dit sal eerder die toegang tot grond verbreed en die deelname van nuwe toetreders tot die sektor sal bykomende produktiewe kapasiteit loslaat om landbouproduksie en werkskepping te bevorder.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.