Hierdie versekering kom kort op die hakke van ’n uitspraak van oud.pres. Kgalema Motlanthe dat gehoop moet word dat die wysiging nie eers oor honderd jaar gebeur nie.

Motlanthe het na wat onder meer deur Moneyweb berig word, hierdie uitspraak op ’n eiendomsberaad in Johannesburg gemaak. Hy het gesê dat politieke wil te kort skiet om die grondkwessie op te los en dat die leiers betrokke by die pogings om die wysiging te laat geskied, hul tyd mors op vrugtelose aktiwiteite. Volgende jaar sal hulle ’n ander rigting soek wanneer hulle besef dit is nie ’n goeie idee nie.

Dr. Mathole Motshekga, voorsitter van die parlement se ad hoc-komitee wat artikel 25 moet wysig, het die versekering gegee dat die komitee sy werk teen einde Maart 2020 sal voltooi. Die komitee moet die wetgewing skryf wat die wysiging tot stand kan bring.

Mnr. Floyd Shivambu, EFF-LP, het vir duidelikheid gevra oor die regering se planne rakende die beleid, veral na aanleiding van wat Motlanthe gesê het.

“Die wysiging van die Grondwet van 1996, om toe te laat dat grond sonder vergoeding onteien kan word, bly ’n verbintenis en voorrangsaak vir hierdie administrasie. Die regering sal nie van hierdie beleid afwyk nie,” het Mabuza gesê.

Hy het benadruk dat grondhervorming ordelik gedoen sal word en onder meer op ’n manier wat ’n toename in landbouproduksie sal verseker.