"Dit is nou duidelik dat die die impak van 2015-’16 se droogte oor meer as een jaar strek,” sê mnr. Alan Sutton, voorsitter van Valley Macadamias in die Sabievallei.

“Ons hoop dit raak nie aanstaande jaar se oes ook nie,” het Sutton tydens sy maatskappy se jaareindgeleentheid by Hazyview gesê.

Sutton sê hierdie droogte het boere, soos hyself, laat besef hoe jonk die makadamiabedryf eintlik is.

“Dit was ons eerste groot droogte en ons leer nou eers hoe ons bome op sulke toestande reageer en hoe lank hulle nodig het om weer tot volle produksie te herstel.”

Die vooruitskatting vir die 2018-oes was aanvanklik 57 000 ton. Hoewel baie boere sê die vrugset in hul boorde lyk goed, kan niemand nog met sekerheid sê of dit ’n realistiese verwagting is nie.

Beter oes in Australië
Australië het vanjaar ’n groter oes (47 000 ton) as Suid-Afrika en Sutton meen dié land mik na markoorheersing. Hy is egter gerus dat Suid-Afrika meer beskikbare hektare het en weer die Australiese produksie verby sal steek.

Hy het boere aangemoedig om meer hektare te beplant. “Ons ding om rakruimte mee. Wanneer ek met die groot supermarkgroepe van die wêreld gaan praat, is dit die klein volumes makadamias wat beskikbaar is wat maak dat hulle nie ons produk in groot maat wil aankoop nie. Om deur ’n maatskappy soos Walmart ernstig opgeneem te word, moet Suid-Afrika minstens 75 skeepsvraghouers per jaar kan verskaf.”

Suid-Afrika vestig jaarliks sowat 2 000 ha nuwe makadamiaboorde, maar vanjaar is daar na raming 4 000 ha gevestig.

Sutton sê China gaan nog vir lank die grootste koper van Suid-Afrikaanse makadamias wees. Hy het ’n beroep op boere gedoen om die goeie pryse wat hulle tans vir hul neute verdien, te gebruik om in hul boerderye te belê.

“Bou die drogingsvermoë uit en moenie afskeep met insette nie. Gebruik die huidige winsgewendheid om jul plase in professionele produksie-eenhede van wêreldgehalte te omskep.”