Netwerk24 berig ’n tweede gas is lig beseer toe ’n koeël sy enkel skrams getref het. Luidens die berig het die verdagtes ’n skootrekenaar, ’n beursie, ’n handsak en ’n selfoon gesteel. Hulle het te voet van die toneel gevlug het.

Intussen is ’n sakeman (33) van Senekal die tweede mens wat in hegtenis geneem is oor die gebeure op dié dorp op 6 Oktober toe twee verdagtes in verband met die moord op mnr. Brendin Horner (22) verskyn het.

Volgens brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, word die man aangekla van openbare geweld, brandstigting, opsetlike saakbeskadiging en poging tot moord.

Netwerk24 berig die man, wie se naam nie genoem mag word nie omdat hy vandag eers in die hof verskyn, is Vrydag in hegtenis geneem nadat sy gesig na bewering deur middel van kringtelevisiekameras by die hof uitgeken is. Sy vrou het aan Netwerk24 vertel die polisie het hom gevra om ’n verklaring by die polisiekantoor te gaan aflê. Hy is toe in hegtenis geneem.

Mnr. André Pienaar het reeds in verband met die gebeure op Senekal in die hof verskyn, maar is borgtog geweier. Netwerk24 berig sy appèl teen die weiering van borgtog is Donderdag in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor. Dié hof het vanoggend sy borgtog toegestaan.

* Mnr. Stephanus Johannes Fourie, die tweede persoon wat in verband met die 6de Oktober se gebeure in hegtenis geneem is, het intussen in die Senekal-landdroshof verskyn. Dié hof het borgtog aan hom toegestaan.