Mnr. Thandanani Mabaso was tien uur vasgekeer in ’n mielie-silo van Winterton Meule nadat hy in die vroeë oggendure van Sondag 11 Maart in die silo beland het. Hy was tot by sy nek in die mielies begrawe, berig Landbouweekblad se susterkoerant in KwaZulu-Natal, The Witness.

Mnr. Freddie Halgreen, hoof van die Okhahlamba-munisipaliteit se brandweer en nooddienste, sê Mabaso gelukkig om lewend van die ongeluk af te kom. “Dis onbekend hoe hy in die silo beland het, maar dit wil voorkom asof die meule mielies uit die silo onttrek het en sy bene toe in die suigklep vasgevang is.

“Ons moes gate in die silo sny en het met emmers 120 ton mielies uit die silo geskep om Mabaso te bevry. Hy is nie erg beseer nie en is per helikopter na ’n nabygeleë hospitaal geneem. Hy is in ’n stabiele toestand,” sê Halgreen.

Me. Venessa Rech, ’n woordvoerder vir Afgri, sê die meule en die silo behoort nie aan Afgri nie, hoewel Afgri dit vul. “Mabaso is nie in Afgri se diens nie, maar die maatskappy het met ’n ondersoek begin om vas te stel wat die oorsaak van die ongeluk was.”