Manie, El Niño tiener
Hierdie week se spotprent

Manie kan nie wag om by sy spioene te hoor hoe die besoek verloop het nie. Johan du Toit, ’n Suid-Afrikaanse sendeling, wat saam met sy sendelingpa, Leon, verblyfmoontlikhede in Rusland ondersoek, het saam met die Russiese groep Suid-Afrika toe gekom. Hulle het onder meer Hartswater, Orania, Vrystaat Landbou in Bloemfontein en TLU SA in Pretoria besoek.

Volgens Johan is die afvaardiging hier met voorstelle vir landbou-ontwikkeling en -beleggings in Rusland wat wedersyds voordelig kan wees. Die groep word gelei deur Wladimir Poloejarenko, ’n skakelman vir die Stawropol landbou-streek in die suide van Rusland. Volgens hom is dit ’n private inisiatief en daar is ook ’n mediaspan wat die groep vergesel.

Die besoek herinner Manie sterk aan ’n besoek van ’n afvaardiging uit Georgië wat ook ’n paar jaar gelede Suid Afrikaners na hul land genooi het. Soos in die geval met Georgië is die Russe se aanknopingspunt ook die geskiedenis van Suid-Afrika en die feit dat Russiese soldate saam met Afrikaners in die Anglo-Boereoorlog teen Britse imperialisme geveg het.

Een van Georgië se prinse, Niko Bagrationi, het ook saam met die Suid Afrikaanse boere teen die Engelse geveg en die bynaam “Niko die Boer” gekry. Hulde aan plaaswerkers Die Wes-Kaapse departement van landbou is omtrent ’n baken van hoop in Suid-Afrika se onstuimige see van mank en dikwels korrupte departemente.

Een van sy inisiatiewe is die prestige-eerbewyse aan werkers in die provinsie. Sedert sy ontstaan het dit sowat 12 800 inskrywings gelok. Die verhale van inspirasie, ontwikkeling en blootstelling wat daaruit voortspruit, vul ’n mens opnuut met hoop. Dit is nie net ’n aand van jolyt, glans en smaaklike kos nie ... dit is ’n kompetisie wat niemand onaangeraak laat nie.

Die aand is die spreekwoordelike kersie op die koek ná ’n woelige jaar waarin ontwikkelingsgeleenthede vir landbouwerkers in ’n provinsie met 300 000 landbouposte nie blote lippediens is nie. Elsenburg bied ’n omvattende hoeveelheid (billike) kortkursusse oor alle bedryfsvertakkings, leierskaps- en rekenaarkursusse, kindersorg, leerderskapprogramme vir plaaswerkers se kinders, jeugprogramme, plaaswerker- en ubuntu-kampe vir toesighouers en voormanne.

Die premierskandidaat vir die provinsie, Alan Winde, wat onlangs deur Beverley Schafer opgevolg is as minister van landbou, het die spyker die aand op die kop geslaan toe hy gesê het die landbou berei jou voor op enigiets in die lewe. Jy het outomaties ’n passie vir jou land, die grond, mense en die ekonomie. Manie dink Winde het hom die afgelope vier jaar goed van sy landboutaak gekwyt (en sy nege jaar lank in die ekonomie-afdeling). Hy het ’n sterk hand gehad in die inisiatief om ’n huishoudelike sensus oor drie jaar onder landbouwerkers in die Wes-Kaap te doen.

Die bevindings van die omvattende opname, wat die departement R7,7 miljoen oor drie jaar gekos het, is verlede jaar bekend gemaak. Die departement het nie gras onder sy voete laat groei nie en reeds heelwat ontwikkelingsprojekte van stapel gestuur om leemtes te vul en groei en ontwikkeling aan te wakker.

Veral middelmisbruik, vroeë kinderontwikkeling, probleme vir werkers se kinders, ’n hoë skoolverlaatsyfer en werkloosheid wat in die sensus uitgesonder is, word aangepak. Schafer is nie ’n landbounuweling nie. Sy is ’n groot voorstander van entrepreneurskap – en sy sal voortbou op Winde se grondwerk, waarin groot energie gestort is om landbouwerkers, die bedrading wat die land aanmekaar hou, se lewe ten gunste te verander.

Stil, Broers, daar gaan ’n man verby

Die landbou het ’n week gelede afskeid geneem van een van sy bekendste skaapkenners. Cameron McMaster, oudrasdirekteur van die Dohne-Merino-skaaptelersgenootskap, is op 25 November op die ouderdom van 81 oorlede. Cameron het ’n reusebydrae gelewer om die Dohne-Merino as ’n skaapras van wêreldfaam uit te bou.

Hy het geglo geen ander skaapras kom naby die Dohne-Merino se produktiwiteit en winsgewendheid nie. Hy het ook die gedenkboek Birth of a Breed: The Dohne-Merino Story geskryf. Hy het op ’n plaas naby Cathcart grootgeword waar hy sy passie vir skape ontwikkel het. Hy het die ras in die 1950’s as ’n junior wolverkoper leer ken en ook vir Koot Kotzé, wat met die ras begin het, ontmoet.

Sy amptelike verbintenis met die telersgenootskap strek oor drie dekades – van 1970 tot 2000. Hy is in 1970 as bestuurder van die genootskap aangestel waar hy vertroud geraak het met die beginsels van wetenskaplike teling. Hy was ook verantwoordelik daarvoor dat die genootskap se rekords in die 1970’s en 1980’s gerekenariseer is. Sy passie het daartoe bygedra dat die ras internasionaal bekend geraak het.

Ná sy aftrede het hy voortgegaan om die ras internasionaal bekend te stel en hy het gereelde werksessies in Australië en later ook in Suid-Amerika aangebied. Dohne-Merino’s was egter nie sy enigste passie nie. Manie verneem hy was ook ’n internasionaal erkende kenner van inheemse bolplante en skoenlappers – in so ’n mate dat van hulle na hom en sy navorsingswerk genoem is.

Hy het glo op ’n dag ’n buitelandse besoek betaal deur ’n deel van sy skoenlapperversameling te verkoop. Manie wil saam met Landbouweekblad sy innige meegevoel oordra aan Cameron se vrou, Rhoda, en kinders, Susan, Graeme en Stephen, en die res van die familie.

Wie is die vrou?

Die boervrou probeer haar man bel wat dorp toe is, maar haar selfoon se lugtyd is op. Sy vra haar seun Pietie om op sy foon sy pa te bel en te sê hy moet brood en melk saambring. Nadat die jongeling ’n paar keer probeer het, sê hy vir sy ma dit wil nie werk nie. “Daar is net dieselfde tannie wat elke keer Pappa se selfoon antwoord.”

Hoogs ontstoke wag sy vir haar man om huis toe te kom en toe hy uit sy bakkie klim gee sy hom ’n stewige klap. Almal op die werf hardloop nader om te hoor wat aangaan en steeds woedend sê sy vir Pietie hy moet aan almal verduidelik wat die vrou gesê het.

“Sy het gesê: The subscriber you have dialled is not available at present. Please try again later,” antwoord Pietie.

© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.