Daar kan geen twyfel wees nie dat grondhervorming die afgelope 25 jaar ’n klaaglike mislukking was. Ondanks dié feit bly die regering bloot net hardkoppig vasklou aan alle beheer oor die situasie. Die paar voorstelle wat vernuwing in die proses kon bring en groter betrokkenheid van die private sektor kon verseker, het in die slag gebly.

Dit voel vir Manie of ’n helpende hand wat uitgesteek word, hier weggeklap is. Eerstens is die gedagte van ’n grond-en-landbouhervormingsagentskap afgeskiet omdat die departement in sy nuwe gedaante – met landbou en grondsake saamgevoeg – kwansuis bevoeg genoeg is om die werk te doen.

Die agentskap sou na grondverkryging, die vestiging van begunstigdes en steun ná vestiging omsien. Ongeag die samestelling van die departemente oor die jare is dié take nog nooit behoorlik uitgevoer nie. Niemand kan kwalik geneem word as hulle bedenkinge daaroor het nie.

Manie hoop maar net dit steek nie ’n stok in die wiele van die landbou-ontwikkelingsagentskap waarmee oudminister Roelf Meyer besig is nie. Baie goeie werk is al gedoen en die mikpunt is dat dit deur die private sektor bestuur word met die staat as vennoot om beleidsekerheid te skep.

Bykans R13 miljard vir 32 ontwikkelingsprojekte is al ingesamel. Dit sal jammer wees as die burokrate hierdie projek probeer kaap of dit nie ten volle steun nie. Die agentskap is ’n belangrike projek waarmee die private sektor vir die soveelste keer kan bewys dat hy beter toegerus is om landbou-ontwikkelingsprojekte suksesvol deur te voer as staatsamptenare wat dit vanuit hul kantore wil doen.

’n Ander onverklaarbaarheid is dat die regering meen daar is nie verdienste vir die stigting van ’n grondhervormingsfonds nie. Die rede: Die huidige begroting vir grondhervorming is voldoende om in die vereistes te voorsien mits dit optimaal en oordeelkundig aangewend word. Dít kan so wees, maar wat maak dié situasie nou anders as oor die afgelope 25 jaar?

Voorstelle wat wel aanvaar is

Manie wil darem nou hier so vroeg in die nuwe jaar darem nie nét pessimisties wees oor die kabinet se besluite oor die grondpaneel se verslag nie. Daar is immers sowat 60 van die paneel se net meer as 70 voorstelle wat wel aanvaar is. Talle van hierdie voorstelle het meriete as die uitvoering daarvan ordentlik is.

Daar is byvoorbeeld voorstelle oor die ontwikkeling van riglyne waarvolgens begunstigdes van grondhervorming op ’n deursigtiger grondslag geïdentifiseer moet word, voorstelle oor ’n doeltreffender stelsel om nuwe boere te ondersteun sodat hulle produktief kan boer, die skep van ’n databasis van beskikbare staats- en openbare grond vir hervorming, groter klem op die verantwoordelikhede van verskillende staatsdepartemente en groter druk op die regering om werk te maak van wetgewing en duidelikheid oor grondeienaarskap in kommunale gebiede.

Dít is ’n kwessie wat nie langer ontduik kan word net om tradisionele leiers te paai nie.

Eiendomsregte op die spits gedryf

Die deurslaggewende aspek van grondhervorming in 2020 is die regering se hantering van wysigings aan die Grondwet om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak. Dít sal deurslaggewend wees vir die land se voorspoed of mislukking. Vir belanghebbendes binne die georganiseerde landbou is dit bo-aan die lys van voorrangsake.

Dié kwessie sal waarskynlik vanjaar op die spits gedryf word. Pierre Vercueil, waarnemende voorsitter van Agri SA, sê die beoogde verandering aan artikel 25 kan katastrofies vir die land wees. Dit kan mense keer om in die landbou te belê en sal alle boere se kollaterale waarde benadeel.

Hy meen daar sal vanjaar ernstig daarteen baklei moet word. Die ongunstige ekonomiese impak sal aan die regering uitgewys moet word. Hy sê dan moet die georganiseerde landbou ook met alternatiewe vorendag kom. Dit help nie jy vertel vir iemand sy plan gaan nie werk nie, maar jy het nie ’n plan van jou eie nie.

Louis Meintjes, voorsitter van TLU SA, sê op sy beurt die ANC wil die proses stoomroller en dat dit deur die parlement sal gaan. Hy meen egter daarna sal dit deur regsaksies vertraag en deur internasionale regsaksie gestuit word. Andersins is die Suid-Afrikaanse ekonomie daarmee heen, meen hy (en Manie stem saam).

Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die netwerkorganisasie Saai, sê die grondwetwysiging en die beskerming van eiendomsregte was sedert die organisasie se ontstaan een van sy belangrikste voorrangsake. Saai het reeds ’n strategie ingestel en koördineer dit saam met sy netwerkvennote om te verseker dat die kwessie as ’n verenigde front aangepak word.

Nóg voorrangsake vir 2020

Agri SA wil sy verhoudinge met alle belanghebbendes in die landbou verder uitbrei. Pierre sê dit sluit boerderye as familiebesighede in wese, kommoditeitsgroepe, landboubesighede en ook die regering in. Hy sê die afgelope twee jaar is daar hard gewerk aan ’n posisie van wedersydse agting in die verhouding met die regering sodat daar gesamentlik werkbare oplossings gevind kan word.

Daar is probeer om die private sektor in ’n groter mate te betrek. Manie verstaan ’n belangrike projek wat TLU SA hierdie jaar wil deurvoer, is die Agri Quantum-projek saam met IQ Logistika wat geskoei is op die model waarmee Katoen SA groot sukses behaal het. Louis sê dit gaan oor die vestiging van ’n virtuele waardeketting om die risiko van die boer te verminder, naspeurbaarheid te vestig en die wyse waarop sake gedoen word, te vergemaklik.

TLU SA hoop ook om alternatiewe finansiering vir sy lede te kry met onder meer die daarstelling van ’n beleggingsmaatskappy en ’n korporatiewe bank. By Saai word sy STIC-toepassing, wat ontwikkel is om veediefstal te bekamp, binnekort amptelik bekend gestel. Dit behels naspeuringstegnologie uit China wat daar gebruik is om Afrika-varkpes te bestry. Rossouw sê die tegnologie gaan nou ook ingespan word om bek-en-klouseer te bestry.

Briefie van ’n vrou:

“Ek het ’n pragtige klein hondjie vir my man vir Kersfees gekoop. Nou is hy allergies daarvoor. Ek soek dringend ’n ander huis vir hom. Gratis! Hy is 52 en kom saam met ’n rusbank en ’n TV-remote. Hy kan ’n bietjie skottelgoed was en snork nogal baie, maar verder is hy ’n goeie man. Laat weet, asseblief as iemand belang stel!