Volgens afkondigings in die Staatskoerant is vyf sulke agentskappe in 2016 aangestel. Dié agentskappe is LEAF Services (om alle plaaslike en ingevoerde graan en oliesade vir gehalteversekering te inspekteer), Prokon (wat jare gelede deur die aartappelbedryf begin is en nou ook vars produkte moet toets), Nejahmogul Technologies and Agric Services (suiwelprodukte), Agency for Food Safety (diereprodukte) en Impumelelo Agribusiness Solutions (verwerkte produkte, soos vrugtesappe en bevrore of ingemaakte groente en vrugte).

Billy Makhafola van die departement wat met die inspeksiediens gemoeid is, het in ’n bondige antwoord op Manie se kollega se vrae geantwoord dat almal, afgesien van LEAF, op dreef is. Dit is egter nie wat Manie se spioene hom in die oor fluister nie. Buiten miskien Prokon wat ’n bietjie vordering maak, lyk dit nie vir Manie of enigiets anders as hierdie agentskappe se spoggerige webwerwe werk nie.

Sommige bedrywe, soos Melk SA en die vrugtesapbedryf, beoog regsoptrede teen die inspeksiediens. Selfs waar daar ondernemings deur die departement en agentskappe was om oor werkbare stelsels te onderhandel, gebeur daar net niks.

Dit vat die koek

Die pad wat LEAF geloop het, vat egter die koek. LEAF (wat staan vir leadership, environment, agriculture, forestry en fisheries) is ’n onderneming wat in die geheel deur ’n groep vroue in die Oos-Kaap (hul eie beskrywing) besit word. LEAF is in 2016 deur Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, aangestel om ’n inspeksiediens in die graanbedryf te behartig.

Zokwana het dit gedoen sonder om die bedryf enigsins in die saak te ken. LEAF moes by alle hawens, pakhuise, silo’s, meule, bakkerye en selfs by groot- en kleinhandelaars graanprodukte se gehalte toets. Die geraamde begroting daarvoor was R60 miljoen per jaar en die bedryf moes opdok. Die bedryf het aanvanklik met die hof gedreig, maar die departement het onderneem om oor ’n werkbare stelsel te onderhandel.

’n Jaar gelede moes LEAF sy plan voorlê, maar het steeds geen benul gehad hoe die bedryf lyk of waar sy inspeksies gedoen moet word nie. Opdrag is gegee om met belanghebbendes in die bedryf te praat en met ’n nuwe sakeplan teen Maart vanjaar te kom. Dié vergadering is van LEAF se kant gekanselleer en sedertdien hang alles in die lug.

Die kersie op die koek

Manie verneem nou LEAF het glo die internasionale onderneming SGS (’n internasionale leier in toetsing en sertifisering) gekontrakteer om die werk namens hom te doen. In praktyk het dit beteken die staat kontrakteer ’n statutêre verpligting uit aan ’n maatskappy omdat hy dit nie self kan doen nie. Dan gaan daardie maatskappy en kontrakteer dit op sy beurt uit aan ’n ander maatskappy, sonder enige tender, omdat hy nie die werk kan doen nie.

Ná besware uit die bedryf het SGS glo kop uitgetrek en die jongste nuus is dat ’n nuwe maatskappy nou glo deur LEAF gekontrakteer is – net om die sakeplan saam te stel. Intussen moet die bedryf wag en sien voor hy die kwessie verder kan voer – en dit ná twee jaar. Dit is presies ’n jaar gelede dat Manie genoem het dat die diens vir die graanbedryf sover ’n muis gebaar het en daar geen duim gevorder is nie.

Die groot vraag: Wie betaal intussen vir die gelag? Manie wonder wat het almal al die afgelope twee jaar uit hierdie onderskeie inspeksie-agentskappe verdien.

Zimbabwe

Zimbabwe se boere is verstommend optimisties oor die toekoms van die landbou in hul beleërde land. Dit lyk asof niks hulle kan onderkry nie, vertel ’n kollega wat pas ’n week saam met boere in Bulawayo deurgebring het. Dit was tydens ’n beesskool wat deur hul stamboekvereniging aangebied en deur 150 boere bygewoon is. Daar was selfs 20 name op die waglys.

Dit is ’n bewys van hoe hulle na inligting oor die nuutste tegnologie in veeboerdery smag. Die jongste krisis is die tekort aan buitelandse geld wat onontbeerlik is vir die invoer van noodsaaklike lewensmiddele en ander goedere, veral brandstof. Die regering, wat die kastaiings uit die vuur moet krap nadat Robert Mugabe die land tot in die afgrond geregeer het met sy beleid om kommersiële boere se grond af te vat en dit vir sy volgelinge te gee, sit nou met te min valuta.

Die land het reeds in 2009 van die Zimbabwiese dollar ontslae geraak en die Amerikaanse dollar as betaalmiddel begin gebruik. Nou het die geld so min geraak weens onder meer die betaal van buitelandse skuld, dat die banke nie aldag geld het nie. Mense mag net $100 per week trek – as die banke geld het. Gevolglik gebruik baie mense nou elektroniese betaalstelsels, wat die probleem deels verlig.

Daar is egter veral ’n brandstoftekort en lang rye voertuie is ’n daaglikse gesig by vulstasies. Sommige boere maak egter steeds ’n plan, soos die man wat met muntstukke vir die beeste betaal het wat hy onlangs op ’n veiling gekoop het. Mense vertel hy het beeste van $150 000 tot $250 000 bekom en toe met ’n paar bakkievragte vol muntstukke betaal. Waar hy dit gekry het, wil niemand sê nie, nie eens hyself nie, maar dit was blykbaar heel wettig.

Die veilingshuis moes mense huur om die méér as ’n miljoen munte te tel! Maar terug by die boere: Daar is nog heelwat kommersiële boere in Zimbabwe oor wat grond huur om voort te boer. Sommige van hulle huur hul ou grond by die nuwe eienaars. Daar is ’n onwrikbare gees om boerdery vorentoe te neem. Vanjaar het die registrasie van stoetvee reeds met 3% gestyg, wat ’n bewys is van die boere se vasbyt-geaardheid.

Bedrog met voedsel

Een van Manie se kollegas was geskok om tydens die veevoervervaardigers se onlangse simposium te hoor hoeveel bedrog daar met voer- en voedselbestanddele gepleeg word. Benewens sonneblomolie wat as olyfolie bemark word en voer wat bedrieglik as nie-GMO geklassifiseer word, sê dr. Adriaan du Toit, hoofkonsultant van Advance Management Consulting, dat speserye ook gerek word deur onder meer sement as vuller aan te wend.

Laat een van Manie se ander kollegas toe ewe droogweg hoor: “Geen wonder ek sukkel só om gewig te verloor nie.”



© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.