Verliese aan melkproduksie van 5-10% kan in die melkbedryf voorkom weens koeie wat mank word en dit verg die volgehoue aandag van die hele melkbedryf, het dr. Danie Odendaal, verbonde aan die onderneming Veearts Netwerk in Gauteng, op RuVASA se kongres vir veeartse by Goudini in die Wes-Kaap gesê.

Hy het deelgeneem aan ’n gesprek oor mankheid by melkkoeie op die jaarkongres van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) by die Goudini Spa. Dit word hoofsaaklik deur voeding, ontwerp van die infrastruktuur, genetika en bestuur veroorsaak.

Odendaal het gesê tyd is altyd ’n beperkende faktor op ’n melkplaa,s waar take soos die melk en voer van die koeie in ’n siklus van 24 uur plaasvind en vir 365 dae van die jaar volgehou word. Enige ekstra taak wat tyd verg, plaas dus ’n las op die melkprodusent se bedrywige bestuursprogram. Dit geld ook vir die behandeling van beeste wanneer ’n noodgeval voorkom, wat tot melkverliese of selfs vrektes kan lei.

Beplande kuddegesondheid om noodgevalle en verliese te verminder, word ongelukkig baie afgeskeep, het hy gesê. Die aspekte wat waarskynlik die meeste agterweë bly, is ’n program om mankheid te beperk en die verskaffing van basiese geriewe om ’n koei se pote te ondersoek, met ander woorde om die koei se pote op te lig sodat die veearts dit in ’n veilige omgewing kan ondersoek.

“Daar is ’n behoefte aan ’n projek om mankheid in die Suid-Afrikaanse suiwelbedryf te beperk,” het hy bygevoeg. ’n Program vir die aanmeld van siektes en ’n voorligtingsdiens vir melkprodusente wat op die medium en langtermyn op doeltreffende bestuur fokus, is gedurende 2013 deur Melk Suid-Afrika begin as ’n direkte, vertroulike kommunikasiekanaal tussen boere en veeartse.

Deel daarvan is ’n projek om die voorkoms van mank koeie te beperk, wat vanjaar verder ontwikkel en uitgebrei gaan word. Dan kan veeartse die melkprodusente wat hulle bedien, oplei te om mankheid te voorkom.

Deel van die projek is om ’n mobiele, elektroniese program te ontwikkel wat gebruik kan word om te meet in hoeverre risikofaktore vir mankheid op die plaas aanwesig is.