Die raming is dat boere 37,1 miljoen ha mielies aangeplant het, wat 3% meer is as in die vorige seisoen.

Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê dit wil voorkom of Amerikaanse boere na aanleiding van hoë mieliepryse in Junie van hul sojaboonhektare na mielies omgeskakel het. As gevolg daarvan is sojaboonaanplantings 10% laer. Dit staan nou op 32,4 miljoen ha vir die seisoen.

Sedert die nuwe data bekend gemaak is, het die Amerikaanse mielieprys teruggesak. Teen begin Julie was die prys sowat $192/ton, wat steeds 16% hoër is as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. “Die ontwikkelinge in die Amerikaanse mark is belangrik vir Suid-Afrika omdat dit ook die plaaslike mark beïnvloed, wat gekoppel is aan die internasionale mark,” sê Sihlobo. “Plaaslik het die pryse ook teruggesak.”

Hy glo dit is nou belangrik om die werklike opbrengs en oppervlakte wat in Amerika geoes gaan word, dop te hou. “Wat aangeplant word, is een kant van die saak. Die sleutelvraag is wat die opbrengs gaan wees. Teen einde Junie was net 56% van die Amerikaanse aanplantings in goeie of baie goeie groeitoestande teenoor 76% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Dit wys dat alles nie rooskleurig in die mieliestreek daar is nie.”

Verbod

Wat Suider-Afrika betref, het Zimbabwe op 28 Junie ’n verbod geplaas op die lewering van mielies aan iemand anders as die regering se graanbemarkingsraad. Dit sal teen ’n vasgestelde prys wees wat nog nie bepaal is nie. Dit volg nadat voedselinflasie daar in Mei met 126% op ’n jaargrondslag gestyg het.

Sihlobo meen Zimbabwe sal vanjaar sowat ’n miljoen ton mielies moet invoer om in sy plaaslike vraag te voorsien.

“Hierdie optrede van die regering kan tot nadeel vir boere daar wees wat gehoop het dat ’n hoër mielieprys kon opmaak vir opbrengsverliese wat hulle gaan ly. Dit sal beslis die geval wees as die regering sy vloerprys laer as die internasionale prys maak.”

Hy wys daarop dat Zimbabwe, deur sy graanbemarkingsraad, reeds ’n tender uit het om 750 000 ton mielies internasionaal aan te koop. Dit sal die meeste mielies wees wat ingevoer moet word sedert 2016 toe 1,4 miljoen ton ingevoer is. Hierdie mielies sal teen internasionale pryse aangekoop moet word en daarom is dit te betwyfel dat die regering teen sy eie boere met ’n laer prys sal diskrimineer.

“Oor die volgende paar maande sal ons hierdie eksperiment fyn dophou om te sien watter lesse beleidsmakers in die landbousektor daaruit kan leer. Ons weet wel dat in ander Afrika-lande, waar regerings die uitvoer van mielies in droogtetye verbied het, dit tot nadeel van die boere was.”

Volgens die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) se syfers het Suid-Afrikaanse handelaars in Mei en Junie sowat 102 000 ton witmielies na buurlande en ander lande in Afrika uitgevoer, maar niks hiervan was na Zimbabwe nie. Daar word ook beoog om van middel Junie tot die week van 23 Augustus altesame 116 186 ton witmielies en 53 745 ton geelmielies uit te voer. Terselfdertyd word egter ook beoog om in dieselfde tydperk 131 953 ton geelmielies in te voer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.