Mnr. Zac Bard, besturende direkteur van Westfalia en ondervoorsitter van die WAO, het op Hortgro se tegniese simposium op Somerset-Wes gesê die organisasie wil die bemarking van avokado’s oor die hele wêreld, maar veral in Europa, tot nuwe hoogtes voer.

Die promosiemaatskappy MSL het namens die WAO met ’n kenteken en die slagspreuk “Avocado – fruit of life” opgekom. Dit pryk nou oral in die strate, winkels en op die bladsye van koerante en tydskrifte in Brittanje, Frankryk en Duitsland. 

“Avokado’s moet ’n internasionale handelsmerk raak, byna soos Coke of Nike. Ons probeer die mark gereed maak vir die groot volumes avokado’s wat op pad is.”

Twee jaar gelede is sowat 5,2 miljard kg avokado’s wêreldwyd gelewer. Die verbruik van avokado’s groei met sowat 4,6% per jaar.

Zac sê avokado’s word al 75 jaar lank in Suid-Afrika verbou. In die 1980’s het Suid-Afrikaanse uitvoer begin toeneem en die volume het die mark laat ineenstort. Kort daarna het Peru ook begin uitvoer, wat ’n groot krisis vir avokadoboere meegebring het.

Sedertdien het dinge verander, onder meer danksy generiese bemarking en ’n groter bewusmaking van die gesondheidsvoordele wat avokado’s bied. Oor die wêreld heen het avokodo-aanplantings met rasse skrede uitgebrei. Die boorde sal oor die volgende paar jaar in drag kom, wat die volume avokado’s op die mark aansienlik sal verhoog.

“Namate die volumes meer raak, het die prys ook toegeneem. So iets gebeur nie aldag in die landbou nie,” het Zac gesê. 

‘Voel of groei ontplof’

Amerika en Europa is tans die markte wat die vinnigste groei.

Luidens die WAO se webwerf het Europeërs in 2016 meer as 410 miljoen kg avokado’s geëet. Die verbruik sal waarskynlik vanjaar met 20% styg tot 480 miljoen kg.

“Europa is die naasgrootste verbruiker van avokado’s. Dit voel vir ons asof die groei ontplof, maar dis selfs beter in Amerika, waar daar groter voorraad uit Mexiko beskikbaar is en meer geld aan gesondheidsnavorsing oor avokado’s bestee word.”

Volgens Bard was hul begroting nie voldoende om vanjaar in China, Hongkong en Japan bewusmaking te skep nie, maar dit word vir die toekoms beoog.

“Vyf jaar gelede het Asië nie avokado’s geken nie en nou is die verbruik al by duisende tonne. Asië het wakker geskrik oor avokado’s.”

Groot bemarkingsveldtog

Navorsing toon verbruikers is min gepla oor waar hul avokado’s vandaan kom. Daarom het die WAO besluit om hom op generiese bemarking toe te spits om verbruik aan te wakker. Busse en taxi’s in Londen en trems in Amsterdam is groen geverf en met avokado-bemarkingsmateriaal bedek, plakkate is by busstasies aangebring en ’n e-resepteboek in drie tale is ontwikkel.

Daar was ook ’n groot klem op sosiale media en kleinhandelprogramme. Die Franse kleinhandelaar Carrefour se webwerf het ’n tyd lank ’n nuwe avokado-gedrewe voorkoms gehad en in sy televisie- en radio-afdeling is inligting oor avokado’s oor die toestelle gespeel.

Die veldtog is gefinansier deur heffings (€0,20 per kg) wat die WAO se lede betaal. Só is ongeveer €2,5 miljoen ingesamel om avokado’s vooraan in verbruikers se gedagtes te plaas.

“In ’n kort tyd en met betreklik min geld het ons ’n groot invloed op avokadoverbruik gehad. As ons nuwe verbruikers kan lok of mense wat reeds avokado’s eet sover kan kry om meer te eet, is ons suksesvol.”

Die WAO is in 2016 gestig en verteenwoordig sowat 120 van die wêreld se grootste avokadoprodusente, -uitvoerders en -invoerders, onder meer uit Mexiko, Peru, Suid-Afrika en Amerika.