“My raad aan die wit bevolking van Suid-Afrika is om hierdie ouens te ignoreer,” het Mbeki tydens ’n Nasie in Gesprek-sessie op Nampo gesê.

Dit was deel van ’n bespreking oor die impak van politieke kwessies op die landbou. Hy het verwys na die “geraas” wat politieke partye, soos die EFF, maak oor die grondkwessie en onteiening sonder vergoeding. 

Volgens Mbeki is hy en sy familie nie bekommerd oor onteiening sonder vergoeding nie. Inteendeel, hulle het einde verlede jaar twee plase gekoop en is opgewonde oor die boerderye wat hulle op die plase kan bedryf. 

Glo nie in ‘wag en kyk’

In antwoord op Mbeki se standpunte het mnr. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie Afriforum, gesê: “Ons glo nie dat om terug te sit en te wag die beste manier is nie.” Die organisasie het Amerika verlede week besoek om onder meer oor dié kwessie met die Amerikaanse regering te gesels. 

“Ons glo ons tree in die beste belang van Suid-Afrika op,” het Kriel gesê. 

Grondwet as ‘swartskaap’

Volgens mnr. John Steenhuisen, hoofsweep van die Demokratiese Alliansie, is dit teleurstellend om te sien dat die ANC die Grondwet tans as die “swartskaap” vir die mislukking van grondhervorming wil voorhou. “Die Grondwet word voorgehou as die swartskaap vir iets wat eintlik toegeskryf moet word aan jare se wetgewende mislukkings.” 

Steenhuisen het gesê die staat moet ’n betroubare grondoudit doen, die staat moet titelaktes aan begunstigdes gee en die Regering moet ophou om die landbou as die vyand te behandel. 

Op sy beurt het mnr. Patrick Lekota, leier van Cope, gesê dit is belangrik dat alle individue in Suid-Afrika hulself as Suid-Afrikaners moet begin beskou sodat die gesprek konstruktief vorentoe geneem kan word. “As ons kyk na perde, is daar wit perde en swart perde en grys perde, maar hulle bly almal perde.” 

Intussen het mnr. Roelf Meyer, oudminister, gesê mnr. Jeremy Cronin, die Adjunkminister van Openbare Werke, het al aangedui die ANC is nie van mening dat die Grondwet verander moet word nie.

“Een van die redes hoekom ek glo dit moenie verander word nie, is dat as jy aan Artikel 25 van die Grondwet – wat deel vorm van hoofstuk twee van die Grondwet wat met menseregte te make het – begin torring, wat gaan jou keer om aan die res te karring?” 

Kritiek teen Agri SA 

Mbeki het Agri SA gekritiseer en gesê dat dit ’n verskil aan die grondhervormingsituasie sou maak as die organisasie ag geslaan het op die praktiese voorstelle wat vorendag gekom het uit ’n vroeëre gesprek wat hy tussen die organisasie en die vakverbond Cosatu gefasiliteer het.

“Jy kan nie ’n politieke stryd met behulp van statistiek beveg nie, jy moet dit polities takel.” 

Volgens Mbeki is die kwessie van onteiening sonder vergoeding ’n “groot leuen.” Namate dié leuen meer en meer deur mense bespreek word, vind dit later neerslag en kry vatplek. Dít moet end kry en moet voorkom word, het hy gesê. 

Mnr. Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende hoof van Agri SA, het uit die gehoor op Mbeki se stelling gereageer deur te sê hy is teleurgesteld met die bespreking. “Ek dink nie enige van die menere (op die verhoog) weet wat werklik aangaan nie.”

Volgens Van der Rheede “het hulle nie ’n benul” van die werk wat veral bedryfsorganisasies al gedoen het om grondhervorming en transformasie te bevorder nie. Hy het gevra mense moet waak teen veralgemening en die ware feite moet eers nagegaan word voor mense stellings van verhoë af maak. 

Meyer het in kommentaar oor die bespreking gesê Agri SA moet in dié verband ’n punt daarvan maak om die suksesse wat bereik word op groter skaal in die media oor te dra.