Dit was een van die sentrale temas in die begrotingsrede van mnr. Tito Mboweni, minister van finansies.

“Aanhoudende elektrisiteitsprobleme sal groei terughou. Oor die volgende drie jaar verwag ons groei van gemiddeld net oor 1%. Daarom sal die stabiele voorsiening van elektrisiteit ons belangrikste taak wees.”

Ekonomiese groei was die afgelope jaar laer as voorspel en die verwagting is dat dit 0,9% in 2020 sal bereik, terwyl dit in 2022 tot 1,6% sal styg. Elektrisiteitstekorte het die ekonomie onder kwaai druk geplaas. Die ernstige finansiële probleme van Eskom en ander staatsinstellings slurp openbare hulpbronne op.

In 2019 het gekonsolideerde regeringsbesteding geskiedkundige hoogtes van 36% van die land se bruto binnelandse produk (BBP) bereik. Boonop leen die staat geld teen ’n koers wat toeneem, nie vir die bou van infrastruktuur nie, maar om sy bedrywighede te finansier. Swak groei het tot ’n werkloosheidskoers van 29,1% in die tweede helfte van 2019 gelei.

Na verwagting gaan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens R63,3 miljard minder belastinginkomste ontvang as wat in die 2019-begroting aangekondig is. Staatskuld absorbeer nou 15 sent van elke rand wat ingevorder word. As dit só voortgaan, sal die rente teen 2022-’23-boekjaar gesonde besteding oorskry.

Om te begin beweeg na fiskale volhoubaarheid het die regering sy hoofbestedingsbegroting met R156 miljard verminder oor die volgende drie jaar.

Die totale vermindering is vanweë die verlaging van die basislyn en die loonrekening met R261 miljard.

Dit word gedeeltelik geneutraliseer deur die hertoewysing van R111 miljard, waarvan R60 miljard vir Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens opsygesit is.

Strukturele hervorming moet dringend by Suid-Afrikaanse hawens gedoen word om die koste van handel te verminder. Reguleringshervormings moet by spoorvervoer ingestel word om die doeltreffendheid daarvan te verbeter, terwyl dié bedryf gekomplimenteer moet word deur die verwydering van subsidies in spoorvragvervoer om ’n gelyke speelveld vir mededinging te verseker.

Sektore

Die verwagting is dat landbouproduksie in 2019 vir die tweede agtereenvolgende jaar sal inkrimp weens die droogte en die uitbreking van bek-en-klouseer. Produksie het met 9,1% in die eerste drie kwartale van 2019 geval teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2018. Weerstoestande aan die einde van 2019 laat blyk dat daar hoër gewasproduksie in 2020 sal wees, hoewel handelsversperrings vanweë tariewe en beleidsonsekerheid ’n kwessie op mediumtermyn bly.

Vervaardigingsproduksie het met 0,1% in die eerste drie kwartale van 2019 gekrimp teenoor die ooreenstemmende tydperk in 2018. Voedsel, drankies en voertuie was die enigste komponente waarvan die uitsette verhoog het. Die uitvoer van vervaardigde produkte het met 6,8% gegroei. Die verwagting is dat die vervaardigingsektor oor die volgende paar jaar onder druk sal bly weens hoë bedryfskoste en elektrisiteitstekorte.

Belasting

Om ekonomiese groei te bevorder beoog die regering om die stelsel vir korporatiewe belasting op mediumtermyn te herstruktureer deur die basis te verbreed en die koers te verlaag. Dit sal beteken dat belastingaansporings geminimaliseer word, terwyl ’n nuwe rente-aftrekking ingestel sal word, asook perke op die geraamde verliese wat geëis kan word.

Die vermindering van die korporatiewe inkomstebelasting sal onder meer besighede aanspoor om te belê en produksie uit te brei, terwyl dit die land se mededingendheid as ’n beleggingsbestemming sal verbeter.

Koolstofbelasting

Koolstofbelasting geld vanaf 1 Junie verlede jaar, en dit styg op dieselfde datum in 2020 met 5,6%. Die styging sluit in ’n jaarlikse inflasiekoers van 3,6% plus twee persentasiepunte, wat in pas is met die Wet op Koolstofbelasting (Wet 15 van 2019). Dit beteken die belastingkoers hiervoor sal verhoog van R120 tot R127 per ton koolstofdioksied. Met 12,7 miljoen ton plastiek wat die oseane wêreldwyd besoedel, sal oorweeg word om die heffing vir plastiek na alle plastiek wat eenmalig gebruik word by kettingswinkels – insluitend plastiekstrooitjies, gereedskap vir huishoudelike gebruik en verpakking – in 2021 uit te brei.

Daar word voorgestel dat die heffing vir plastiek van 12c tot 25c per sak vanaf 1 April 2020 verhoog word. Die brandstofheffing sal op 1 April 2020 met 16c per liter styg, en die heffing vir die padongelukkefonds met 9c per liter.

Sondebelasting verras

Die sukkelende suikerbedryf het die afgelope twee jaar gesoebat dat die regering nie belasting op suiker moet verhoog nie. Hoewel die tesourie hom verlede jaar met ’n styging teleurgestel het, het sy pleidooie die slag soet vrugte afgewerp met geen verhoging van dié belasting in die 2020-’21-boekjaar nie.

Die meeste aksynsbelasting sal verhoog word in pas met die verwagte inflasiekoers van 4,4% vir die 2020-’21-boekjaar. Die belasting op vonkelwyn sal egter met 6% verhoog en dié op pyptabak en sigarette met 7,5%. Aksynsbelasting op bier sal met 4,4% styg, terwyl dit vir tradisionele bier onveranderd bly.

Die regering het ook nou elektroniese sigarette en tabakprodukte wat verhit word, in sy visier.

Belasting op elektroniese sigarette wat nie tabak gebruik nie, word in 2021 beoog. ’n Nuwe kategorie of heffingsafdeling vir tabakprodukte wat verhit word, sal in die skedule vir aksynsbelasting ingebring word, en belasting van 75% van die aksynskoers vir sigarette sal onmiddellik daarop gehef word.