Sprekers was veral warm onder die kraag oor ’n onlangse berig waarin ’n daling van 32% in landbougrondpryse voor die deur van politieke uitsprake oor onteiening sonder vergoeding gelê het. Onder bespreking was die “energie” in die landbou.

Aan die een kant was sprekers opgewonde oor die opbouende gevolge wat Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad op Bela-Bela reeds behaal het.

“Vir die eerste keer het boere gesels oor grondhervormingsplanne wat hulle self reeds in werking gestel het,” het Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, gesê.

“Ons het eerstehands die krag gesien van optimistiese stories. Suid-Afrika het van die beste, suksesvolste grondhervormingsplanne ter wêreld.”

Polariseer debat

 Mnr. Theo Vorster van Galileo Capital, gespreksleier, het daarby aangesluit en gesê die media is in die algemeen nie geïnteresseerd in goeienuusstories nie. “Die media wil eerder die debat polariseer,” sê Vorster.

“Ja, dit is feitelik korrek dat grondpryse met 32% gedaal het, maar dit was slordige joernalistiek,” het mnr. Francois Strydom, uitvoerende hoof van Senwes, gesê.

“Die landbou is ’n sikliese bedryf. Grondpryse in die Amerikaanse graanproduserende gebied het byvoorbeeld báie meer gedaal as ons 32%. Droogte, graanpryse en die seisoene het ’n groot invloed.”

Dit is beslis nie onteiening sonder vergoeding wat hierdie kwartaal se grondpryse afgedwing het nie, sê hy. Hy beskuldig die media dat die onderwerp “sensasioneel gekoppel word” aan onteiening sonder vergoeding.

Werklike waarde

 Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het sy stem by die kritiek op die media gevoeg en gesê dat die joernaliste wat só oor die landbou skryf, nie Ekonomie 101 geslaag het nie.

“Die daling van grondpryse is tegnies korrek, maar dit is glad nie ’n weerspieëling van die landbougrond se waarde wat landboumaatskappye gebruik as sekuriteit vir produksielenings nie,” het hy ná die paneelbespreking aan Landbouweekblad gesê.

“Hoe vergelyk jy kwartale en neem nie die toestande in ag nie? Verlede jaar was ’n rekordjaar vir graanproduksie en vanjaar was ’n gewone, goeie oes. Boonop is die mielies ten minste ’n maand laat geoes weens die laat reën, graan wat nie vinnig afgedroog het nie, en die laat planttyd. Nou val vanjaar se oestyd deels buite die kwartaal (April tot Junie). Vanjaar se kwartaallikse inkomste lyk dus baie anders vir die landbou.”

De Villiers sê die vrugtebedryf is veral geraak deur die droogte in die Wes-Kaap en dat dit sin- loos is om ’n goeie jaar se landbou- inkomste met ’n droogtejaar s’n te vergelyk. Hy meen die skuld vir die invloed wat dit op grondverkope en -pryse het, kan nie op politieke uitsprake gepak word nie.

“Die mielies was dan al verlede jaar sedert Oktober tot Desember geplant – lánk voor onteiening sonder vergoeding op die ANC se tafel was. Vrugteboorde is jare gelede geplant en die opbrengs het niks met politiek te doen nie.”

Dinge kan verander

De Villiers is egter realisties oor die toekomstige invloed van politiek op die landbou-ekonomie.

“Die gronddebat kan definitief in die toekoms die landbou-‘BBP’ benadeel, maar jy kan nie hierdie kwartaal se prestasie aan die politiek toeskryf nie. Indien ons na die landbou-inkomste vir die volgende ses maande kyk, word dit bereken dat die graanbedryf se bydrae in die derde kwartaal (Julie tot September) met 9% sal styg teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar en die vierde kwartaal sal dit met 21% verhoog.

"Dit is grootliks vanweë die beter graanoeste wat in die Wes-Kaap en veral die Swartland vanjaar verwag word. Die omvang van hierdie wisselvalligheid is ’n inherente eienskap van die landbou en die seisoenale eienskap daarvan." 

Van links is mnre. Theo Vorster (gespreksleier), Francois Strydom (groep hoof- uitvoerende beampte: Senwes), Chris Burgess (redakteur: Landbouweekblad), Jannie de Villiers (uitvoerende hoof: Graan SA), Alan Winde (minister van ekonomiese geleenthede, Wes-Kaapse regering) en André Uys (uitvoerende hoof: Acorn Agri & Food). Foto: Liza Bohlmann

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.