Die eerste boorgat is verlede jaar op 11 Junie gesink. Die doelwit is om 208 boorgate wat water lewer, op plase in die distrik te sink. Dr. Gideon Groenewald, ’n hidroloog met 35 jaar ervaring, en mnr. Martyn Landman, ’n boorkontrakteur, behartig die boorproses.

Volgens Groenewald kos dit sowat R145 000 om ’n boorgat te sink. Die koste van die projek is aanvanklik op R15 miljoen geraam. Die totale koste van die projek is egter tans R88 miljoen. Gift of the Givers dra die grootste gedeelte van hierdie koste.

“Dit sal finansieel onmoontlik wees om hierdie projek te herhaal. Ons sal ’n nuwe model vir die insameling van geld moet uitwerk en die Regering sal geld daarvoor moet verskaf. Die nood is eenvoudig te groot vir organisasies soos Gift of the Givers om sulke projekte alleen te behartig,” sê Groenewald.

Die doel van die projek was nie net om boere se veekuddes aan die lewe te hou nie, maar ook om boere op hul plase te hou, vertel Groenewald. Hy sê dat, vanuit ’n wetenskaplike oogpunt, daar nie binne die volgende drie jaar voldoende reën sal val nie. “Niemand wat vandag leef, het al so ’n erge droogte soos hierdie een beleef nie. Die ergste kom nog. Die droogte begin nou eers sy tande wys.”

Projekte soos dié gee egter vir hom hoop dat die boere die droogte sal oorleef. Uit sommige boorgate kan tot 72 000 liter water per uur gepomp word en boere sal dus genoeg water hê.

Hy is verder bemoedig deur die samewerking wat uiteindelik verseker het dat die projek suksesvol is. “Die grootste seëning wat ek gedurende die projek ervaar het, is dat mense van alle kleure, gelowe en rasse saamgespan het om die boere te help,” sê hy. “Die droogte bring eintlik mense bymekaar. Die boere moet besef hulle sal moet saamstaan, nie net met ander boere nie, maar ook met enigiemand anders wat probeer help.”

Wonderwerk

Landman vertel die projek was vir hom ’n aangename ervaring van begin tot einde, ten spyte van die probleme wat hulle ervaar het. “Aanvanklik het die boere nie geglo dat enigiemand gaan kom om hulle te help nie. Die dag toe ons met die bore uit Kaapstad gery het, het mense met trane in hul oë gestaan toe ons in Sutherland stilgehou het.”

Een van die probleme wat hulle ervaar het, was die boordiepte wat op plekke toegeneem het van 40 m tot 100 m, grotendeels weens die watertafel wat gesak het. Vir Landman was die grootste struikelblok egter om op die Karoo se bandevretende paaie te ry. “Ek het nog nooit in my lewe so baie bande gekoop nie!”

Om die projek te staak, was nooit ’n opsie nie. Al moes hulle nege gate boor voordat hulle een boor wat water lewer, het hulle dit gedoen.

“As jy naby aan die boere se huise ’n gat boor wat water lewer, kan die boere dit vir hul huise gebruik. Mense wat nog altyd net brakwater op hul plase gehad het en water moes aanry, het nou vars water.”

Hy sê die vrede, liefde en dank wat hy ervaar het, is iets wat ’n mens nie elke dag kry nie. “Een van die boere met wie ek nog gereeld kontak het, het ’n boorgat met brakwater op sy plaas gehad. Ons het 50 m geboor en vars water gekry. Om so iets vir iemand te kan doen, is ’n wonderwerk.”

Hy het dié video van een van die boorgate wat Vrydag, 18 Januarie geboor is, op Facebook gedeel. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.