Dié land se weerdiens teken reënval sedert 1888 aan. Luidens ’n verslag van die Australiese Buro vir Meteorologie is neerslae van meer as 2 000 mm in die 12 dae tot 9 Februarie in die omgewing van Paluma, Woolshed en Upper Bluewater aangeteken.

Die reënval is veroorsaak deur ’n aktiewe reëntrog en stadig bewegende laagdrukstelsel wat oor die noordwestelike dele van Queensland voorgekom het.

Rekordreënval is in die omgewing van Townsville aangeteken. Volgens die buro het die weerstasie by Townsville in die tien dae tot 6 Februarie 1 257 mm aangeteken. Die vorige rekord in die omgewing is in Januarie 1953 aangeteken, toe 925,5 mm binne tien dae geval het.

Die meeste reën wat in tien dae in Australië aangeteken is, was 3 913 mm by Bellenden Ker, sowat 300 km noord van Townsville, in die tien dae tot 12 Januarie 1979. Dié neerslae is veroorsaak deur die tropiese sikloon Peter. 

Reënvalpatrone

Die buro sê historiese metings en die voorkoms van swaar reënval bied nie ’n akkurate gids om dié tipe reënvalgebeurtenis te kan voorspel nie. Dit is weens die veranderende klimaatstelsels, en omdat globale verwarming moontlik die voorkoms van reënval in die meeste plekke kan verhoog. Die buro, saam met Australië se omgewingswetenskapprogram, is besig met navorsing wat wetenskaplikes hoop hulle in staat sal stel om in die toekoms uitermatige swaar reënval vir Australië te voorspel.

Die buro het verlede jaar reeds in ’n verslag aangedui dat weerstasies in die afgelope dekades ’n hoër persentasie van die totale jaarlikse reënval tydens swaar reëndae aangeteken het. “Namate die klimaat warmer word, word verwag dat swaar reënval meer intens word, gegrond op die fisiese verwantskap tussen die temperatuur en die waterhoudingvermoë van die atmosfeer. Vir swaar reëndae word verwag dat die totale neerslag met sowat 7% sal styg vir elke graad wat die temperatuur warmer word.” 

Ooreenkomste

Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog by Santam Landbou, sê vanweë die ooreenkomste wat tussen klimaatstoestande in Oos-Australië en die somerreëngebiede van Suid-Afrika bestaan, kan lokale oorstromings soos wat in die Townsville-omgewing voorgekom het, ook in Suid-Afrika voorkom.

Intussen berig 7News dat die Australiese weermag reeds sowat 41 000 ton veevoer begin vervoer het om die boere in die oorstroomde gebiede in Queensland by te staan.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.