Die elf lidlande se totale bevolking is meer as 340 miljoen mense. Sowat 29,4 miljoen, of 14,2%, sal in die huidige boekjaar ’n gebrek aan kos ervaar. ’n Opname verlede jaar het aangedui dat 13,9 miljoen, of 25%, van Suid-Afrikaners onvoldoende toegang tot kos gehad.

Die ander lande wat saam met Suid-Afrika die ergste geraak word, is Malawi, Zimbabwe en die Demokratiese Republiek van die Kongo.

Mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het gesê dis belangrik om te besef dat voedsel- en voedingsonsekerheid komplekse probleme is. Dié kwessie is volgens hom fundamenteel verbind aan maatskaplike faktore, wat insluit ontwikkelingskwessies soos toegang tot grond, krediet, onderrig, werkskepping, asook insette vir landbouproduksie.

70% van bevolking

Zokwana het gepraat by die viering van Wêreldvoedseldag wat die SAOG-streek in Namibië gehou het. Hy het gesê dat die landbou die sleutel vir ekonomiese transformasie en voedsel- en voedingsekerheid is. Sowat 70% van die streek se bevolking maak staat op die landbou vir kos, inkomste en werk. Daarom is belegging in die landbousektor van groot belang om armoede uit te wis, veral in landelike gebiede waar die meeste van die streek se armes woon.

Hy het gesê dit is belangrik dat belegging onder meer die produktiwiteit en inkomste van kleinboere moet verhoog, meer en beter werk vir die armes in landelike gebiede moet skep en moet help om boere se inkomste in die waardeketting te verbeter.

Om te benadruk hoe belangrik die boere in die streek en reg oor die wêreld is, het hy ’n aanhaling van die internasionale mentor en boer, me. Brenda Schoepp, voorgelees. “My oupa het altyd gesê dat jy een keer in jou lewe ’n dokter, prokureur, polisieman of ’n predikant sal nodig hê, maar elke dag – drie keer ’n dag – het jy ’n boer nodig.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.